top of page
Uitmelkbos

WOORD WAT RYM MET BLOG

In die broodblik is ‘n volgraanbroodjie met lae GI (Engels: Glycemic Index); in die drankkabinet darem nog ‘n driekwart bottel J&B (Justerini & Brooks-whiskey) vir ‘n doppie by die rugby en ‘n flertsie OBS (Old Brown Sherry) vir ‘n soetigheidjie voor die Sondagmaal.

Tokkie lees geboeid aan ‘n boek deur Jodi Piccoult waarin uitvoerig vertel hoe ‘n mooi meisie in ‘n sekssaak DNS-toetse (te ingewikkeld om te begin verduidelik) uitvoer. In vanoggend se koerant lees ek van FAS (Fetale Alkoholsindroom – nie verwant aan PMS (Pre-menstruele Spanning) soos ek aanvanklik in my onkunde gedink het nie. Op die sakeblaaie lees ek van SEB (Swart Ekonomiese Bemagtiging).

Die kinders leer nou op skool L.O., wat deesdae die afkorting vir Lewensoriëntering is. In ons dae was L.O. plein Liggaamsopvoeding.

Vriende is pas oor vir ‘n vakansie in die VSA (Verenigde State). Hulle sou eers in JFK (die internasionale lughawe J.F. Kennedy) by New York land voordat hulle na L.A. (Los Angeles) aan die verre weskus vlieg.

Vir die Bokke draf J.P. Pietersen op vleuel uit in die Wêreldbeker-eindtoernooi. Die Bokke se krieket-eweknieë, die Proteas, sluit die linkskolwer J.P. Duminy in. Op die politieke toneel word F.W. de Klerk in ‘n nuwe doktorale verhandeling ongunstig met sy voorganger, P.W. Botha, vergelyk.

Selfs sekere woorde, veral taboewoorde, word aan hul “voorletters”/afkortings geken. Die berugte k-woord het Darren Scott pas laat hop – hoef seker nie my nek uit te steek en die betekenis hier neer te pen nie. Dan is daar die goeie ou f-woord – daardie een wat rym met stok, rok en blog. Om goeie redes wat nie nou hier ter sake is nie, dink ek deesdae heelwat aan die f-woord.

Een van die eerbiedwaardigste mense wat ek geken het, was Wynand Mouton, rektor van Kovsies, voorsitter van die SAUK en aftakelaar van SA se kernarsenaal. Ek het hom een keer (net een keer) die f-woord hoor gebruik. In die voorportaal van die Burgersentrum op Oudtshoorn het ek hom raakgeloop toe ons by die KKNK (KKNK, ja) albei net mooi genoeg gehad het van ‘n Clarabelle van Niekerk-konsert (Akkedis, akkedis, jy is wat jy is!). Die f-woord het gevlieg in die verhoogtaal daardie aand.

In die gees van die konsert deel prof. Wynand toe mee: “Hier f.k ek weg!” In die gees van die konsert antwoord ek: “Ja-nee, wat te f…en erg is, is te f….n erg!”

Ek dink die laaste paar dae aan die f-woord in ‘n ander verband. Kom ons se maar: om spesifiek opborrelende negatiewe gevoelens (frustrasie, irritasie, gebelgdheid) te betuig. Ek brand om vir sekere mense toe te voeg (toe te snou): Ag, f.k julle!”

Wat my weerhou, is dat dit darem nie as beskaafd geag word nie. Ordentlike mense praat nie so lelik nie, hoewel ek pas verneem het van ‘n kleinkind van ‘n pastoriepaar wat f.k as een van sy eerste woordjies ge-uiter het. Het dit glo by Ouma (‘n vurige dame met rooi hare) geleer. Dit kom dus van geslag tot geslag in die beste families voor.

Dan herinner iemand my hulpvaardig dat my Tukkie-tydgenoot Johan Combrink, in lewe ‘n beroemde Afrikaans-professor op Maties en voorsitter van die Taalkommissie van die S.A. Akademie, ‘n geleerde akademiese dissertasie* oor die veelsydigheid van daardie woord geskryf het.

Ek het die pyprokende professor se insiggewende stuk weer noukeurig gaan lees. Daarna was ek finaal oortuig dat ek, in die heersende omstandighede, maar “Ag, fok julle” hardop mag sê. Toe sê ek dit. Ek herhaal dit ‘n tweede keer só hard dat Tokkie uit die kombuis vra: “Wat is dit?”

* Vir diegene wat nie daarmee vertroud is nie, bied ek hier as toegif Johan Combrink se (feitlik) volledige pennevrug oor “Die unieke Afrikaanse ’fok’” aan. Ek doen dit uit akademiese oorwegings. Onthou net: ouerbeheer (PG – Parental Guidance) word aanbeveel. Hy skryf:

Een van die interessantste, kleurvolste woorde in Afrikaans, is die leenwoord fok en sy familie. Dis ‘n towerwoord wat, bloot deur sy klank, vreugde of pyn, liefde of haat, ontdekking of frustrasie kan weergee.

Fok is een van die min woorde wat die funksie van byna alle woordsoorte kan vervul.

Dit word as oorganklike werkwoord gebruik (Fok die hele spul), en as onoorganklike werkwoord (Ag fok), as bevel (Fok dit!), in die bedrywende vorm (Dit het my gefok), sowel as die lydende vorm (Nou is jy heeltemal gefok), as die hoofelement in ‘n hele reeks skeibare werkwoorde (aanfok,opfok, uitfok, toefok, voortfok, byfok, agteroorfok, agternafok), ens of as stam van ‘n werkwoord (Nou het jy die hele ding befok).

As abstrakte selfstandige naamwoord (Ek gee nie ‘n fok om nie), of as persoonsnaam (Het jy gesien wat die fokker probeer doen?), as nabepaling by ‘n vraagwoord (Hoe de fok, wie de fok, hoekom de fok, wanneer de fok,ens.), as byvoeglike naamwoord (Waar moet ek die fokken tyd vandaankry?), as bywoord (Dis nou ‘n fokken mooi grap), en as uitroep (O fok!).

Selfs ook as invoegsel (Onge-fokken-looflik). Dit kan ook in homself ingevoeg word (Nou is jy be-fokken-fok). Hierdie Afrikaanse woord kan gebruik word om wyd uiteenlopende situasies te beskryf:

  1. Verrassing: Hoe de fok gaan dit met jou?

  2. Bedrog: Die motorhawe het my befok.

  3. Ontsteltenis: Ag fokkit!

  4. Moeilikheid: Nou is ek in my moer in gefok.

  5. Aggressie: Fok jou!

  6. Meer Aggressie: Ek gaan jou opfok!

  7. Moedeloosheid: Hoe de fok moet ek dit regkry?

  8. Walging: Fok my!

  9. Wanbegrip: Ek fokken verstaan nie.

  10. Inkompetensie: Hy fok alles op.

  11. Gesag: Wat de fok dink jy doen jy?

  12. Verdwaal: Nou weet ek nie ‘n fok waar ek is nie.

  13. Oortuiging: Onge-fokken-twyfeld.

Dit kan horlosietyd beskryf (Presies half-fokken-vyf), of omstandighede (Hoe het ek in hierdie fokken job beland?), of persone (Jan Fokken Smuts), of dinge (Kyk hoe lyk jou fokken skoene!), of plekke (Tot in fokken Durban ), of dit kan die siel van ‘n uitnodiging wees wat van hartlikheid drup (Fok u!).

Fok is in Afrikaans onge-fokken-ewenaard!

Tot so ver, Johan Combrink. Van HvD se kant: “Dankie, Johan – hierna voel ek sommer minder fokken-beswaard!”

4 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page