top of page
  • Uitmelkbos

WOONWA: NET EEN KEER GEBRUIK

In die klein advertensie in die koerant lees jy die TE KOOP-advertensie:

“Woonwa. Amper splinternuut. Net een keer gebruik. Spotgoedkoop.” Die meeste kere is dit by die een oog in by die ander oog uit. Jy soek nie ‘n woonwa. So watwou.

Dat agter die klein advertensie dalk ‘n pynlike verhaal van groot menslike verydeling en ontreddering opgesluit kan wees, gaan by jou verby. Hoe sal jy dan nou ook weet? Bring my ny die deerniswekkende woonwastorie van ’n vername politikus uit ‘n vorige bedeling. Sy naam is Piet Parlement.

Piet is ’n deeglike kêrel. Toe hy sin kry in ’n woonwa, begin hy wyd lees oor dié onderwerp. Partymaal ry hy sommer by woonwaparke in en knoop met ’n verskeidenheid eienaars geselsies aan. Hul geesdriftige vertellings oor onvergeetlike vakansies by allerlei begeerlike bestemmings gee die deurslag.

Hy doen toe sy keuse, en met ’n meevallertjie uit ’n vergete niggie se boedel stap hy by ’n handelaar in om sy droom te verwesenlik. ’n Verruklike model was dit inderdaad. Uiters modern en met elke denkbare gerief vir ’n ontspanne vakansie. Piet begin as ’t ware die slapies tel totdat hy die eerste keer sy huis op wiele vir ’n gesins-uitstappie kan haak.

Toe D-dag aanbreek, was die logistiek al hóéveel keer uitgewerk, en was die moets en moenies aan elke gesinslid volledig bekend. Ook die staanplek is met sorg uitgesoek: ’n rustige oase van reusebome, netjiese grasperke en ’n blouselblou meer waarin ’n kantige berg-kruin op sy rug lê.

’n Genotvolle, kommervrye langnaweek het gewag … hopelik die eerste proeseltjie van ’n nuwe heerlikheid wat belowe het om net aan en aan te hou. Die eerste aand is vroeg reeds ’n vuurtjie aangesteek. Later, bier in die hand, strek Piet hom agteroor uit op ’n opvou-swembadstoel en met behae en dankbaarheid mymer hy oor hoe goed die lewe vir hom is.

Teen slapenstyd is hy in ’n romantiese stemming. Gelukkig is die kleinkinders wat saamgebring is, moeg gebaljaar. Hul rustige asemhaling verskaf algou die sein dat die tyd aangebreek het om ’n perfekte dag liefdevol af te rond.

Maar “oupa! ouma!” klink dit toe skielik ontsteld uit die verste hoek op. “Is hier ’n aardbewing?” vra een benoude stemmetjie.“Hoekom skud die karavaan so?” koor ’n ander.

’n Kortaf ontkenning was onvoldoende. ’n Verduideliking is stotterend verskaf. Nie juis oortuigend nie. Die Maandag het Piet die koerant gebel en navraag gedoen oor sy advertensietarief. “Onder watter hofie?”

“Woonwaens te koop,” was Piet se antwoord. Omdat hy nog altyd ’n man met ’n goeie sin vir humor is, begin hy toe op die daad en tot die advertensiemeisie se verbasing onbedaarlik giggel.

3 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page