top of page
  • Uitmelkbos

WONDERSOETE DING


Die ontsluiering van seniors se slaapkamersake in “Wetenskap vandag” in “Die Burger” van Saterdag is deur hierdie senior met verskuldigde aandag noukeurig gelees.

Relevante bydrae: as ‘t ware ook ‘n lewensgetroue weergawe – dog genadiglik sonder die fyner detail – van die Van D’s se nagtelike bedpatrone.

Soos Elsabé Brits se ouers, oor wie sy haar lesers inlig, is ons kamerlig meermale om 09:00 gedoof – nie vanuit die drang om Eskom ter wille te wees met sy krampagtige pogings om krag te bespaar nie. Dis slapenstyd.

Mev. Brits senior laat die balke bewe minute nadat haar kop die kussings geraak het, deel haar dogter mee. Sonder om geheime te verklap: Tokkie sak ook nogal vinnig in die arms van Morpheus weg.

“Sag op haar bloue(!) oë daal die vaak, soos maneskyn diep waterkuile raak …” Inderdaad, oubaas D.F. (Malhertbe), wat is die slaap tog nie ‘n wondersoete ding nie!

Enige tyd tussen 03:30 en 05:00 geskied die ontwaking: die een eglied kort op die hakke van die ander. Wawyd wakker. Klaar uitgerus. Gereed vir koffie, “Die Burger” of wat ook al.

Soms, maar darem nie altyd nie, word die kombuis, soos in die geval van die Britse, ‘n vroeë toneel van aksie. Soms wel – in nog ‘n merkwaardige ooreenkoms – is dit beesstert wat op daardie uur aan die orde kom.

Groot verskil: in Penguin Place 11 (of Sabiepark, wat die geval mag wees) is dit altyd maar altyd TvD wat agter die kospotte inskuif, nie HvD nie. Beesstert is haar afdeling. Trouens, die totale kombuis is haar domein.

Die uwe maak op 71 selfs nog maar bra onhandig tee, en geniet daarom in die oggendure, met die donker berg doer in die verte, ‘n laaste paar behaaglike strekke bo ‘n onnodige verspilling van energie voor die stoof.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page