top of page
  • Izak de Vries

Womb tide



Womb tide, deur Lara Foot, is reeds in 1995 geskryf. Dit is egter vroeër vanjaar (2010) verwerk tot ’n mimiekstuk deur die wonderlike FTH:K. Uiteindelik kry dit ’n heel nuwe betekenis, en ’n lewe heeltemal onafhanklik van die oorspronklike stuk.

FTH:K werk hard daaraan om drama vir dowe mense en gehoorgestremdes toeganklik te maak. Hulle stukke is bekend vir maskers en die grootse, mimiekagtige bewegings wat die akteurs uitvoer. Hulle praat met hul lywe, nie hul monde nie.

Ek is werklik nie seker of die oorspronklike stuk heeltemal oorgedra word nie, maar dit maak nouliks saak. Ek het nie Foot se oorspronklike stuk gesien nie, so ek weet nie wat ek mis nie, maar ek weet wel wat ek bykry. Hier word goed op die verhoog gedoen op nuwe maniere en ’n heel nuwe taal kom hier ter sprake. Julle dink die orgasme in When Harry met Sally is iets ysliks? Wel, kyk bietjie wat hierdie ouens sonder woorde aanvang. Meer nog: Gaan kýk hoe ’n roereier skielik omskep word in ’n miskraam.

Die verwerking van Womb tide is effens uniek, aangesien hier meer klanke ter sprake is as gewoonlik, geen maskers nie en slegs een marionet. Hulle práát egter steeds nie. Dit bly tipies FTH:K en die regisseur, Rob Murray, se hand is duidelik te sien. (Dit is reeds die derde stuk wat ek van hulle sien.)

Womb tide handel oor ’n paartjie wat nie kan kinders kry nie. Dan daag die man eendag op met ’n kind. Gesteel? Wel, dalk, want die polisie moet uiteindelik ingryp. (Kyk maar self wat dan gebeur.) Omdat die stuk so oop is vir interpretasie, kom verskillende mense daarvandaan met verskillende idees. My vriend Awie het byvoorbeeld gewonder of die hele idee van ’n gesteelde kind nie dalk ’n droom is nie?

FTH:K se stukke stel hoë eise aan die teaterganger en ek sou dit nie as “lig” bestempel nie. Womb tide is egter komies by tye (dis Lara Foot, onthou) en ek geniet dit om uitgedaag te word. Gaan gerus en ervaar die teater deur die ore van ’n dowe. Dít, op sig self, is al rede genoeg om daar te wees.

Womb tide speel tans in die Baxter.

1 view

Recent Posts

See All

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page