top of page
  • Uitmelkbos

WILDSTE WILDTUIN-GEHEIM


Wat die Engelse ‘n “sneak preview” noem, is volgens Pharos se Groot Woordeboek ‘n geheime voorvertoning. Geheim? Wel, hierna geen geheim meer nie oor wat ek op ons aanstaande Wildtuinbesoek (van 26 Desember tot 10 Januarie) die heel graagste wil sien.

Die foto hierbo lig die sluier oor my “wildste wildtuin-geheim”. Ja vriende, my brandendste begeerte is cheetahs (of jagluiperds) wat draal sodat ‘n mens hulle uit elke hoek en kant kan afneem.

Hierdie treffende foto is een van ‘n reeks wat Vic D’Oliveira net 2 kilometer van Krokodilbrug af op die vrugbare Onder-Sabiepad geneem het. Dit verskyn in die jongste uitgawe van die Wildkaart-tydskrif, Wild.

Toe Vic stilhou om roetes te oorweeg, stap die drie doodluiters uit die bos en begin poseer. Twee is naderhand bo-op die padpredikant. Hul strek hul lenige lywe sodat ‘n mens hul liggaaamsbou fyn kan bestudeer.

As jy hierdie foto goed bekyk het, sal jy darem seker nie weer luiperds en jagluiperds met mekaar verwar soos soveel besoekers aan die Wildtuin nie. Dis omtrent soos wit- en swartrenosters. Vir vele mense is ‘n renoster ‘n renoster, kant en klaar. So is ‘n luiperd vir baie ‘n luiperd.

Nog iets wat natuurlik dadelik verklap die “luiperd” op jou foto is eintlik ‘n jagluiperd is natuurlik die swart “traankol” op die wang. Help glo om die son weg te skaats as hierdie jagters per excellence oor die aarde heen skeer teen ‘n verstommende snelheid.

Luiperds is bonkiger diere, nader aan die aarde weens korter bene, en daardie swartkol is totentaal afwesig. Geen rede om te twyfel oor identiteit nie.

Luiperds het ons op ons tientalle Wildtuinbesoeke oor die jare nogal redelik dikwels oral in die Wildtuin gesien – ook luiperds met hul prooi in die tak van ‘n boom, ‘n bek-af luiperd nadat ‘n leeu sy rooibokkie voor hom weggegaps het, ‘n luiperd oomblikke na sy slagtande in die rooibokkie se nek ingeslaan het, ens. Baie van die waarnemings was ‘n klipgooi van die Krugerhek langs die Sabierivier. Ook in Sabiepark self – lees Duisend Dae Langs Die Sabie deur ene Hennie van Deventer.

Van ons jagluiperd-besigtigings het ek en Tokkie vanoggend in die bed ‘n vinnige rekensommetjie gemaak. (Die Burger was teen 07:00 nog nie hier nie – swak Piketberg!) Ons tel ‘n stuk of ses gelukkies.

Die meeste op ‘n slag was vier in die koelte op die Phabenipad. Hulle was deksels ver die veld in en op my langlens-foto is skaars meer as vae gedaantes herkenbaar. Daardie selfde vakansie het die gesin Parsons van die Suidkus, ook Sabieparkers, ses of sewe in die Phabenipad (Doispanepad) sien speel. Gelukkige bokkers!

Een keer het ‘n cheetah regoor die hek van Satara uit die bos gehardloop, in ‘n omgevalle boom gespring en ‘n oomblik vir die kamera gegrynslag. Dankie, ou grote, jy’t gesorg vir my beste jagluiperdfoto.

‘n Keer het ons kinders Brent en Marisa Claassens in Sabiepark kom kuier. Ons het hulle op die lughawe gaan haal, en by die Malelanehek ingegaan. Toe kry ons ‘n jagluiperd met sy prooi langs die pad onder ‘n boom. Og, die motoropeenhoping!

In elk geval, só manjifiek, soos Vic D’Oliveira, het ek nog nie die voorreg of gelukkie gehad om jagluiperds te sien nie.

Hulle is, wat my betref, bitter skaars diere. Amper só skaars soos ratels, wat ek in al die jare nog net twee keer vlugtig in die Wildtuin gesien het. (My vriend wyle Louis Botha het ‘n keer urelank ‘n geveg tussen ‘n ratel en ‘n luislang naby Satara sit en dophou. Hy was meegevoer deur die ratel se knaendheid. Taai soos ‘n ratel, né!)

Leeus? Ja, die “koning van die oerwoud” is altyd ‘n yslike trofee vir ‘n kamerajagter. Maar leeus is eintlik relatief volop, na my ervaring. As ek die vakansie nie leeus gesien het nie, voel ek daar’s fout aan my kant.

Wildehonde? Ek weet hulle word as ‘n buitengewoon skaars spesie geag. Almal raak opgewonde om van die bont-dierasies op ‘n snuffeldraffie te sien (ek ook).

Maar as ek moet kies, gee my ‘n cheetah, elke dag. Vic, ek ry hierdie vakansietjie spesiaal Krokodilbrug toe. Dalk stap daardie drie weer op die symste plek uit die symste bos en klouter op die symste padpredikant. Dalk al drie saam hierdie keer.

Sal vir jou ‘n HvD-foto stuur!

7 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page