Soms slaan ek BY op ’n Saterdagoggend oop en alles is wonderlik en lekker namate ek die resensies op die twee boekeblaaie die een na die ander verslind. Soms sink my gemoed in die ander rigting in. En dan is daar ook die sonderlinge Saterdae waar dinge heeltemal ontspoor – nóg ’n resensie oor nóg ’n “digbundel”, en ’n resensent wat dermate sukkel dat mens wens Joan Hambidge is die taak gegee. Sy sou die bundel in ’n paar paragrawe gemeet en weggepak het.
Candess Kostopoulos, wat by Wits in die opvoedkundige filosofie doseer, bespreek Erna Jo Kritzinger se Delirium vir Boek24 op ’n manier wat, gegee die situasie, sin maak. Sy konsentreer op die inhoud, en vind dit ”die tipe poësie wat ons in ’n land van wreedheid en verwoesting, maar ook van sintuiglike plesier en uitbundige lewe, nodig het”.
Die resensent meen dis ’n “intens esteties-bevredigende bundel waarin ’n donker dekadente sadomasochisme sigself konsentreer én ontknoop”. Dan gaan sy voort om dit tematies te ontleed en dinge aan te teken wat vir my uiteindelik laat wonder hoe juis haar tematiese lesing wel is. Maak dit nog sin, gegee die situasie? Esteties-bevredigend?
Só byvoorbeeld beweer die resensent dat Kritzinger ’n “wilde geweld in die Afrikaanse poësie” loslaat met:
Maar jy, my merrie, jou wil ek spiere gee wat tril, en bloed. Skud jou trotse kop, pluim jou maanhaar oor dié bleekwit blad, laat drif en onheil onder
jou hoewe vonk en donder, jou fyn enkels dans op die dissonante strand waar steriele ore, dowe oorskotskulpe lê en luister
Ek is jammer, hierdie soort geweld is al in meer as die Afrikaanse poësie losgelaat, in die boeke van Louis L’Amour byvoorbeeld. Tussen al daardie clichés is daar ook ’n “dissonante strand”. Nie eens Annelise Carstens het van dissonante strande gedig nie.
Baie van die opmerkings wat die resensent maak, word nie gerugsteun deur aanhalings nie. Dit sou help om te weet wat presies sy onder “Khtoniese gedigte” verstaan – handel hulle oor die Griekse gode, of oor die dinge bo, op en onder die grond? Mens moet die resensent se woord aanvaar dat sy vind dat die geweldgedigte die toon aangee in die bundel, en dat die gedigte die leser dikwels in verskrikking lei?
Maar dan deins mens terug vir die volgende:
“Op dié wyse wentel die bundel op duiselingwekkende wyse om die spilpunt van ’n intense literêre sadomasochisme, met veral “Clarens” as toonbeeldgedig in hierdie verband:
Saans weer berkebome die nag met bleek, slank stamme af, staan bedags met oë oop, kyk verby die son se ylgeel loop en sien hoe word die horison ’n groot blou pot vol helder berg en persrooi skaduwee.
’n Koue wind vroetel ’n plataan se goue blare los en wikkel om ’n huis se hoek waar verlede jaar se rankroos soos ’n blinde klouter- dief verby ’n vensterraam op sukkel.
Die dorp is ’n lied, ’n gedig, in al vier seisoene ’n lewendige paradys: Oom Daan is hier gemartel en vermoor.”
Intense literêre sadomasochisme? Jongie! Wat van digterlike pretensie?
Laat maar verbygaan.
Van toon gepraat: Marietie Louw-Carstens handhaaf die neutraalste toon wat ek in baie mande in ’n resensie gelees het. Haar bespreking van Carla van der Spuy se Bloed op haar hande (Boeke24) is merkwaardig in die sin dat sy baie min aanduiding gee van hoe sy oor die boek voel. Dis eers driekwartpad deur die ressensie dat sy erken een groep verhale in die boek interessanter is as ander.
Dan gee sy, uiteindelik, in haar slotsin ’n aanduiding dat die boek haar ontstel het: “Bloed op haar hande is nie ligte leesstof nie en glad nie vir sensitiewe lesers nie.” Die neutrale toon wat sy deurentyd volhou is wat my laat vermoed dat sy een van daardie sensitiewe lesers is; dit strek tot haar eer dat sy besef dat ander lesers dalk nie so ontstel sal word deur die boek nie, en dit daarom nie uit die staanspoor afgeskiet het nie.
Dewald Koen ontsier ’n andersins knap resensie van Francois Loots se In sneeu geskryf (Rapport Boeke) met een opmerking. In die manier waarop hy sy reaksie op die roman voor jou uitsprei stem hy ’n mens baie positief jeens die roman. Maar dan sê hy dat sommige van die sekstonele party lesers dwars in die krop mag steek. Nou, as ek ’n ou sensuur-begrip mag gebruik, is In sneeu geskryf se waarskynlike leser nie iemand wat sal seur oor gay sekstonele in ’n roman wat die Sizzlers-moorde as agtergrond het nie.
Vir my tel die dinge wat Koen sê oor die uiteenlopende karakters en die dele van die roman waar Loots se kreatiwiteit vol in bloei staan veel meer as ’n klein groepie mense se negatiewe reaksie op gay seks.
Comentarios