Dit raak ‘n “wilde” en wonderlike rit op die laaste stukkie pad na die einde van 2010 se Sabiepark-wintervakansie toe.
Op die spore van die luiperd wat ek in Apiesdoringlaan afgeneem het, was twee leeus, glo indrukwekkende kraagmannetjies wat ‘n bosbokrammertjie op erf 282, naby die piekniekplek, platgetrek het.
Hul daaglikse roete vat hulle nie ver van Tarlehoet af verby nie. Sou dit die rede wees waarom ‘n brandwag-bobbejaan hoog in ‘n knoppiesdoring langs die huis gister só lank en luidkeels tekere gegaan het?
Op 282 skuil hulle diep in die bos, maar die gekraak van bene was in ‘n stadium duidelik hoorbaar. Sabiepark se uniformdraers het hulle vlugtig mooi gesien.
My vriend Piet Henning van Louis Trichardt beskou leeus as “ingebore moorddadig en astrant, met al die toebehore van nagvisie, tande, naels, lis en nuuskierigheid.“ Stefran Broekman, nuwe parkhoof, stem klaarblyklik met hierdie evaluering saam.
Geen verrassing nie dat die piekniekplek dadelik afgesper is en bewoonde huise haastig besoek is om inwoners te vermaan: Hier’s leeus – moenie dit met dapper en stapper in die strate waag nie. Einde van ons stappery hierdie vakansie!
Manie Steyn van Krugersdorp, studentemaat van 50 jaar was tot Dinsdag op besoek. Vanselfsprekend was die tjops en wors vir Maandagaand se afskeidsbraai op die soliede ystermeneer wat tien jaar gelede sy geskenk aan Tarlehoet was nadat hy en wyle Sannie uit Davidstraat, Constantiakloof, verhuis het.
Buitengewone hiënabelangstelling is deur die seremoniële okkasie uitgelok. Twee kere het een op die voorstoep op en af geparadeer en by die venster ingeloer om vas te stel waaraan die mense aan die tafel só weglê. Toe Tokkie hom ‘n slag wil gaan verwilder, kry sy hom met sy snoet plat op die stoeptafel, my kamera aan’t besnuife. Amper groot skade!
Dinsdagaand, sesuur se stryk, kom lê ene met oë bot toe, kop op sy voorbene soos ‘n hond, by die voëlbadjie. Tokkie vermoed die besoek is om sy/haar laaste asem hier by Tarlehoet uit te blaas. Oud-redakteur Piet Cillié se woorde kom dadelik by ons op: ‘n Dooie muishond stink twee keer. Wat van ‘n dooie hiëna?
Later flikker die oë oop. Die “sterwende” hiëna staan op en stap weg.
In die nag skrik ons wakker van iets wat kletterend val. Die bord met dierespore op wat teen die stoepmuur hang, lê op die grond. Tokkie onthou sy het die uil vroeër oor die stoep sien vlieg. Dit verg nie veel verbeelding om die twee insidente met mekaar te verbind nie.
Vanoggend dui bloedspatsels en dinge op die stoep inderdaad op ‘n uilvangs. Wonder of dit een van die drie resident-nagapies was? Sal dit eers teen skemer weet.
Aan die wildtuinfront was ‘n gawe ontdekking saam met Manie die S21 wat anderkant die piekniekplek Nkuhlu op die Onder-Sabie-teerpad suidwaarts uitswenk. By drie bedrywige drinkgate sien ons olifante, koedoes, blouwildebeeste, rooibokkies en vlakvarke drink. ‘n Eensame ou “dagha boy”-buffel staan en grassies peusel. Voëls is volop.
In die Julie-uitgawe van die tydskrif Weg kies ene Ronél Jacobs die 27 kilometer-lange S21 (ook bekend as die N’watimhiripad) as een van haar vyf gunsteling-grondpaaie in die Wildtuin. Ons het wel nie swart- of witrenosters daar gesien nie, net tekens van hul teenwoordigheid, maar ek moet van harte met Ronél saamstem: dis ‘n lekker, aantreklike en vrugbare pad.
Pak ‘n mandjie en gaan soek ‘n skadukol by die Drinkgat Zonder Naam aan die linkerkant vier kilometer van die afdraai op die H4-1. Dinge roer daar rond.
Comments