top of page
  • Uitmelkbos

WILD EN GE-WILD

Die waarde van ‘n “seisoenskaartjie” vir die Krugerwildtuin is ver bo korale. Ek huil dat die stelsel van ‘n lewenslange Wildkaart ná bereiking van 70 drie dae te gou vir hierdie ou gryse afgeskaf is, maar dat die Wildkaart self nie afgeskaf is nie, is darem ‘n troos.

Ek aanvaar maar berustend dat die ouderdom van 70 in my leeftyd te laat opgedaag het!

Ek sluk swaar, maar berus ook daarin dat die Wildkaart vir ‘n egpaar vir alle parke skielik van R450 tot R560 geklim het. Het nie ‘n sompompie byderhand nie, maar dit lyk vir my gevaarlik naby aan 25% – ‘n soort styging wat vir ‘n pensioentrekker se begroting bitter medisyne is.

Die voordele van ‘n Wildkaart is groot. Met die Wildkaart woon ‘n Sabieparker as ‘t ware in die Krugerwildtuin. Jy kan in en uit by die hek soos jy lus het. Selfs teen R560 is dit ‘n kopie. ‘n Ekstra bonus is die tydskrif Wild wat, volgens belofte, voortaan aan elke Wildkaarthouer gepos gaan word.

My nuwe Wildkaart en eerste tydskrif is nog “in die pos”. Intussen lees ek maar die promosie-eksemplare wat by die Krugerhek by die dosyne met komplimente beskikbaar is.

Voor my is vanjaar se winter-uitgawe met ‘n steenbokkie op die voorblad. In dié blad het ek lekker gelees aan artikels oor o.m. die formidabele jagarend – met ‘n vlerkspan van tot 2,4 meter! – oor die lewe in en om ‘n jakkalsbessieboom – op Wildevy 154 is drie stewige jong jakkalsbessies – oor wetenswaardighede van die drie klein bokkies, steenbok, duiker en klipspringer, en oor ‘n spookvoël wat vinnig met ‘n trapsuutjies klaargespeel het.

Laasgenoemde herinner aan ‘n eie belewenis in Sabiepark. ‘n Takslang was die slagoffer. Die spookvoël – sierlik in sy geel en groen veredos – was te vinnig vir die slang se aanslae. Telkens as dié na sy kant pik, kap die voël hom agter sy kop. Die silwer slang se hals was later soos ‘n bloederige sif. Takslang was teen die einde van die stryd voos gepik. Dood was ‘n verlossing.

Die spookvoël heet in Engels die “grey-headed bush-strike”. Die outeur, Albie Venter, verduidelik vir sy lesers die Afrikaanse naam, spookvoël, is eintlik meer in die kol. In die bos hoor jy gereeld sy “foeee, foeee, foeee-iet”. Jy sien hom egter selde.

Venter se vermelding van die Afrikaanse naam het my skielik laat raaksien hoe Afrikaanse name oral in die tydskrif opduik. Op die voorblad is bv. ‘n verwysing na die bekende olifant-watergat Hapoor in Addo, waar deesdae ook leeus rondloop. Binne word gevra: “Why Hapoor?” Dan word verduidelik: “The dam is named after a legendary elephant bull that had a nick in his ear. Hapoor is the Afrikaans for ‘notched ear’.”

Steenbok, duiker en klipspringer is natuurlik almal Afrikaanse name. Ter inligting van Engelse lesers word volgende betekenis van die duiker se naam aangebied: “The name duiker is derived from the Afrikaans word ‘duik’ meaning ‘to dive’ due to its characteristic porpoising flight pattern.”

Op ‘n ander bladsy lees ek van die skilpadjie bekend as die “Namaqua speckled ‘padloper’”.

Waarskynlik sal jy nog meer Afrikaanse name in Wild kry as jy soek. ‘n Afrikaanse naam is immers dikwels beskrywender as die Engelse eweknie. In die natuur, soos op vele ander terreine, is ons taal se wortels diep ingegrawe. Doodkry is min!

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page