Die stem van gesag. Twee resensies wat die afgelope naweek verskyn het, gee twee verskillende vorms daarvan. Die een is deur Amanda Botha, ’n oud-joernalis en kulturele werker. Die ander is deur Koos Kombuis, ’n rebelse figuur uit die kontra-kultuur rondom Voëlvry se dae, lank gelede.
Botha se resensie in Rapport Boeke van Die onbekende Van Gogh, ’n boek deur Chris Schoeman, is aangepak in ’n skryfstyl wat min ruimte vir lighartigheid laat. Sy weeg, ondersoek, en besluit. Schoeman kom daar goed uit.
Mens sal egter ’n fout maak as jy dit as ’n dor, semi-akademiese resensie beskou. Botha het gans te veel ervaring om die resensie ’n eenvlakkige leeservaring te maak. Sy weet dat kunshistorici by die verskyning van ’n boek soos hierdie onmiddelik sal wonder of daar van primêre of sekondêre bronne gebruik gemaak is.
Botha se ingesteldheid teenoor die boek is vreindelik, dit lei mens wel af wanneer jy sien dat sy meld dat die Van Gogh onder bespreking geen goeie briefskrywer of bewaarder van dokumentasie was nie. Daar is dus geen primêre bronne nie. Ook verwys sy nie na Schoeman se bronnelys nie, maar praat wel met goedkeuring oor Schoeman se deeglike navorsing. Mens kan hieruit aflei dat die beeld van Cor van Gogh wat Schoeman aanbied, ’n aftreksel is wat saamgestel is uit ’n magdom sekondêre bronne, publikasies oor die Van Goghs waaruit dan gefokus is op die inligting wat oor Cor gegee is.
Daarmee is uiteraard geen fout nie – dit is die procedé van historici wat ’n meer populêre aanpak het. Wat wel belangrik is, is die pad wat Amanda Botha volg om uiteindelik te kan sê Die onbekende Van Gogh is ’n goeie publikasie.
Koos Kombuis se bespreking van Jack Parow: Die ou met die snor by die bar (Boeke24) maak aanspraak op gesaghebbendheid, maar wát hy sê, werp net ongemaklike vrae op.
Mnr. Kombuis beroep hom op die onderskeiding tussen Koos Kombuis en André Letoit, oftewel André le Roux du Toit. Die musiekster wat eens dagga gerook het en later rooiwyn op die verhoog gedrink het tussen die sing van liedjies, en die man wat getroud is en pa is van twee kinders. Tussen daardie openbare persona wat almal wat sy boeke gelees, sy musiek beluister en sy verhoogoptredes geniet het op een manier sien, en die private mens wat bitter min mense ken en wat kliphard probeer om ’n “normale” lewe te lei. Al die dinge wat hy aanhaal uit Jack Parow se biografie, is die soort aweregse dinge waarmee ’n jong Koos Kombuis ook die konstruk van sy openbare persona gebou het. Aanvegbare stellings waarmee die “karakter” agter die mikrofoon vir sy luisteraars leidrade na sy openbare persona se waardesisteem gegee het.
Koos Kombuis sien dwarsdeur dié gesmous met ploertigheid – “Ons harte bloei vir jou!” Hy geniet dit om die boek te lees, maar hy is ook nie ’n dom resensent nie. “Is dit nie AWESOME nie,” sê Kombuis oor Parow se buitengewoon oppervlakkige oplossing vir ons land se probleme, en maak nie saak hoe vergoelikend hy daarna aangaan nie, sal dit ’n onnoselheid van baie groot dimensies verg om nie die lading ironie in daardie hoofletter-woord te snap nie.
Wanneer hy uiteindelik struikel, is dit onverwags.
Kombuis wil verduidelik hoekom hy Parow se boek nie vir sy kinders sal gee om te lees nie (oor Parow daggarook te lekker laat klink) maar om dit te doen, moet hy dadelik die Kombuis-konstruk laat vaar en skryf as die bekommerde ouer, André watsevan, wat ook sy eie eerste boek vir sy kinders moes wegsteek. Eens, maar nou is hulle ouer. Hy ook.
En dit is die probleem. Ou sterre, as hulle gelukkig is, raak nie weg nie, hulle raak net verantwoordelik. Die vraag is net, watter een moet ons nou glo?
Comments