top of page
  • Uitmelkbos

Werklik slaags

Asterix en die Galliërs & Asterix en die goue sekel, deur René Goscinny en Albert Uderzo. Resensie: Coenraad Walters (Boeke24) ‘n Eersteklas-bydrae deur iemand wat uitermate geskik is om oor die onderwerp te skryf. Walters se geesdrif vir Asterix-boeke is uit die staanspoor aanwesig, en daarom kan hy met gemak uitwei oor sy eie ervaring van die Asterix-fenomeen. Jy hou om die waarheid te sê van die wydloperigheid, want op elke slingeropmerking maak hy soortgelyke herinneringe wakker – en is seker baie lesers sal my gewaarwording deel. Die vraag is natuurlik of die geesdrif nie misplaas is nie, dat ons wysgemaak word knolle is sitroene. ‘n Resensent kan loftuitinge by die dosyne neerplak, maar mens moet ook bewys hê dat hy werklik met die boeke slaags was. Om dié rede is die talle aanhalings wat Walters gee uit die teks van die vertaler, Sonya van Schalkwyk-Barrois, genoeg om enige vraagtekens oor die aard van die resensie te verwyder.

Snydokter, deur Leon van Nierop. Resensie: Nico du Plessis (Boeke24) Voorspelbare speurverhale is een van die euwels van ons tyd. Daarom is Snydokter so ‘n welkome verskynsel – ‘n speurroman waaraan baie mense via Facebook bygedra het, danksy die vindingrykheid van die uitgewer. Leon van Nierop het dit uiteindelik geskryf, en al het hierdie resensent nie aanklank gevind by die liefdestoneel nie, is die res van sy bespreking van só ‘n aard dat ek hierdie boek nie sal misloop nie. Te oordeel na Du Plessis se reaksie het die eksperiment geslaag. Is dit dan ook nie die taak van elke resensent nie – om aan te toon hoe ‘n spesifieke publikasie verskil van alles wat voorafgegaan het?

Jonk en krapperig: Suid-Afrika se politieke puberteit, deur Jan-Jan Joubert. Resensie: J.B. Roux (Boeke24) Denis Healey het in die jare sewentig gesê dat ‘n aanval deur sy opponent Geoffrey Howe was “like being savaged by a dead sheep”. J.B. Roux se poging om hierdie e-boek van Jan-Jan Joubert af te ransel kan in dieselfde trant beskryf word. Die potensiaal is daar vir ‘n sterk kritiese reaksie, waardeur Joubert se argumente in “gesprek” verder gevoer kan word. Ongelukkig is dit effe bo Roux se vuurmaakplek. Studente van die formele logika sal pret hê om die logiese denkfout van sirkulêre redenasie te identifiseer.

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page