top of page
  • Uitmelkbos

WELKOM O STILLE NAG VAN VREDE

 

Vir almal wat vandag of more “Somerkersfees” van Koos Doep gaan sing of net daarna gaan luister, plaas ek graag ‘n stukkie uit my boek Koerantkamerade (Naledi, 2021). Daarmee sommer my Kerswense aan almal.  Vrede vir julle.

Skenk ons ’n helder Somerkersfees in hierdie land, o Heer.

Toe ons gemeente die laaste Sondag voor Kersfees uit volle bors Koos du Plessis se geliefde Kerslied “Welkom, o stille nag van vrede” aanhef, is dit of die betekenis daarvan vir Afrikaans en vir ons land se Kerskultuur my die eerste keer werklik tref.

In hoeveel ander tale bestaan so ʼn unieke, eksklusiewe Kerslied in eie idioom? In Duits (“O Tannenbaum”)? In Portugees (“Natal no meu lar”)? Maar wag, op musiekterrein is ek ʼn leek. Dalk raak ek te meegevoer. Dalk kan kenners ʼn heel ander perspektief gee. In my belewenis – gun my dit maar op ouderdom 80 – het die jong koerantman Koos du Plessis egter met sy lied vir Afrikaans ʼn braak veld oopgebreek en ʼn kosbare nuwe staanplek verower.

Elkeen wat Afrikaans praat en lief het, kan die stemmingsvolle “Welkom, o stille nag van vrede” met trots omarm en jubelend saamsing – nie net oor die suiwerheid van die eeueoue Kersboodskap wat in eenvoudige, onopgesmukte woorde daarin vervat is nie, maar ook die salige bekendheid van die taalmedium. Dis ons eie. Dis ʼn hartsaak. Meer nog omdat Afrikaans in die Suid-Afrika van 2021 so onder druk is.

Koos Doep se viering van ʼn somer-Kersfees is nie net volbloed-Afrikaans nie; dis sommer ook trots Suid-Afrikaans. Die lied uit eie bodem bring ʼn treffende eie simbool na vore: Die Suiderkruis waarna amper elke besoeker altyd vra. Te lank is onnadenkend met Bing Crosby en andere na ʼn “wit Kersfees” saamgehunker; te lank het ons onsself met Eurosentriese simbole – ʼn sneeuslee met klokkies, takbokke en ʼn koulike sinterklaas toegewikkel in ʼn knus rooi wolpak – vereenselwig. Te lank is in woord en lied, op plate-omslae, tydskrifte se voorblaaie en op al wat Kerskaartjie is, uitgestrekte sneeulandskappe, sneeumanne met bont serpe en oordadig versierde Kersbome by kaggelvure in ons kele afgedwing.

Toe bring “Welkom, o stille nag van vrede” ʼn bevrydende boodskap: Dat Kersfeesklokke ook in helder sonskyn kan beier en die “Betlehemster” in ʼn wolklose, ster-gespikkelde hemelgewelf saam met die Suiderkruis plek kan inneem. In ʼn land waar sneeu op Kersfees ʼn koorsdroom is, is dit heelpad wins.

\Saluut, Koos Doep, wat in 1971 verse een en twee van die juweel geskep het. Saluut ook aan Jannie du Toit wat die verheffende vers drie – “voel jy ook nou sy warm liefde/as ons die dag gedenk/toe hy sy Seun aan ons gegee het/ons grootste Kersgeskenk” – in 2001 bygevoeg het om die lied af te rond.

10 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

bottom of page