
FOTO 1
Dat ‘n mens nooit te oud word om te leer nie, is ‘n waarheid wat hierdie gryse amper-70-jarige steeds van tyd tot tyd (soms pynlik) van bewus gemaak word. Dat die prikkel tot nuwe kennis soms verrassend kan wees, kan hy eweseer van getuig.
Tot gister was die Gestalt-teorie vir my Grieks, en het die begeerte om meer daarvan te wete te kom, nie juis verterend in my boesem gebrand nie. Toe herinner ‘n illustrasie in Buite-Burger my egter aan iets uit my studentejare, en sit dit ‘n proses op tou wat my by (vir my) ‘n interessante ontdekking bring.

FOTO 2
Die illustrasie in Buite-Burger was by die rubriek Fotowenke hierby (foto 2): ‘n skets van twee gesigte aan weerskante en ‘n skynbare kelkie in die middel.
Dadelik maak my geheue ‘n sprong terug na 1959, meer as ‘n halfeeu gelede, en die voorblad van my Tukkie-koshuis, die een en enigste Kollegetehuis, se huisdinee op 12 September van daardie jaar. Ek en my vriend Piet Henning van Louis Trichard was vir die spyskaart verantwoordelik.
Ek het my en Piet se produk gaan uitgrawe, en – kan jy glo? – die voorblad is feitlik identies aan die skets by die Buite-Burger se rubriek. Kyk foto 1 hierbo.
Die ooreenkoms is merkwaardig – die kelkies is feitlik eenders, buiten dat die huisdinee s’n vol vrolike borrels is; die gesigte kom ook baie ooreen, buiten dat laasgenoemde oë en ore het, en die een se hare verklap dat sy ‘n meisie is (‘n mooie daarby).
In sy rubriek in Buite-Burger wil die fotograaf Johan van Tonder weet: wat sien jy as fotograaf wanneer jy na daardie skets kyk – sien jy die kelkie of die gesigte? Die skets, voeg hy by, is een van die bekendste voorbeelde van die Gestalt-teorie, wat probeer verduidelik hoe die brein verskillende afsonderlike voorwerpe in ‘n verstaanbare geheel saamvoeg – as ek hom reg verstaan.
Maar die omslag van die huisdinee se spyskaart dan? Die sleutel moet klaarblyklik opgesluit wees in die Gestalt-teorie, waarvan ek (en ek glo ook Piet, ‘n boerseun wat regte kom swot het) bepaald doerie tyd minder geweet het as ‘n kat van saffraan.
Die nuuskierigheid was nou geprikkel, en ek doen toe wat ‘n mens deesdae doen om sulke raaisels op te klaar: ek tik die woord Gestalt in op Google.
Nou weet ek! Die Gestalt-teorie is al die tyd al van 1890 af ‘n hoeksteen van grafiese ontwerp – die kuns om uit los elemente ‘n eenheid te skep, wat die geheel aantrekliker maak as die afsonderlike deeltjies waaruit dit saamgestel is.
Toe onthou ek terselfdertyd waar ek en Piet ons voorbladskets vandaan gekry het – ons het ‘n kreatiewe argitektuurstudent, Tantor Coetzee, se arm gedraai. “And then,” soos die Engelse sê, “the pennie dropped”.
Natuurlik was grafiese ontwerp deel van Tantor se studieveld.
Die omslag van ons dinee se spyskaart is sowaar by Gestalt gegaps. Hoogs intellektueel. En ek ontdek dit nou eers. Hygend hert.
Comments