Is die hemel ‘n plek? Dit was ‘n Woordfeesgesprek vanoggend op RSG. Ek het, soos baie ander mense sekerlik vandag, aan Gerrit Brand gedink terwyl ek hierna luister. Hierdie soort gesprek, reken ek, sou reg in sy kraal gewees het. Spiritueel, filosofies – en soekend.
Ek het nie vir Gerrit Brand persoonlik baie goed geken nie, maar ek het sedert 2000 baie dikwels met hom te doen gehad. En hom leer ken uit die seminare wat hy vir LitNet gereël het, blogs wat hy geskryf het en opinies wat hy uitgespreek het. Iewers in die lente verlede jaar het ons koffie gedrink in die Wijnhuis en hy het verwys na sy gesondheid wat agteruitgaan. Maar wie sou kon raai dat dit alles so vinnig oor kan wees as mens 42 jaar oud is? As ‘n ma van jong kinders raak sy afsterwe my baie diep. Hy was self ‘n pa.
Die huldeblyke aan Gerrit Brand stroom in op LitNet. Lees dit soos wat dit inkom, want daar verskyn nog ‘n hele paar bydraes. Sommige is versoek, maar die meeste kom sommer net self daar aan. Dis of mense nie anders kán as om iets oor hom te wil sê nie. Alle mense. En vanuit alle oorde: die boekewêreld, die akademiese kringe, en die taalgroepe. Hy was een van daardie sonderlinge mense wat dit kon regkry om met alle mense oor die weg te kom al het hy nie met almal saamgestem nie.
‘n Opmerking in Christo van der Rheede se huldeblyk het my diep getref, waar hy hoop dat Gerrit Brand nou met Neville Alexander en Jakes Gerwel in die wandelgange van die hiernamaals gesels. Daar was iets so salig en vredevol aan hierdie opmerking.
Hulle is saam daar. Laat sy jong seuns probeer om hul hiermee te troos. Terwyl ons almal hier op aarde nog praat en redekawel en sukkel met alledaagse sleur en kieme. Rus in vrede, Gerrit Brand.
Oor my opskrif. Ek sou reken al die tale onder die son. Wat sê jy, Gerrit Brand?
Groete, NM
Comentarios