Adam soek sy ribbebeen, Dopper Joris sy seiltjie, die voëltjie sy nes (“Hebban olla vogala …”). Maar as die pot sy deksel gekry het, wat gebeur daarna? Elke week wonder die mense op LitNet se biegruimte hieroor. En toe lees ek gister die volgende artikel in die Guardian: “The mystery of monogamy: scientists claim to have the answer. Study says some species have become monogamous through evolution and, for primates, infanticide is at its root.”
Nogal interessant dat die wetenskaplikes paartjies se getrouwees aan mekaar sterk koppel aan ouerskap. Die negatiewe soort. Maar die afwykende soort wat al so lank bekend is, dat Goya amper ‘n honderd jaar gelede hierdie skildery geverf het:
Of wag, lees ek nou die artikel verkeerd? Is een van die skrywer se teorieë juis dat kinders teen kindermoord beskerm moet word deur die vaders en daarom is daar een of ander primêre drang wat meer gesofistikeerd geraak het deur die jare wat veroorsaak dat die pa nie voet in die wind slaan nie?
Van een ding is ek seker. Kinders verstewig die eg en kinders plaas ook die verbintenis onder druk. Dalk moet ek nie vir Nigella Lawson en ‘n onlangse rusie met haar nou-vervreemde man juis oor die kinders by die gesprek betrek nie. Maar ek het nie so ‘n sensasionele voorbeeld nodig om my punt te illustreer nie. Elke dag speel alledaagse voorbeelde hom af in elke huishouding met kinders, ek is oortuig daarvan. Hoe meer siele, hoe meer verskille.
Tog, as my geliefde vir my op ‘n wintersaand Milo in die bed bring te midde van blogbepeinsinge, sluit hierdie aap eerder maar af met Olga Kirsch se gedig “Huwelik”:
‘n Jaar of wat van angs en fel verrassing, van leer en afleer, lugtige geluk, dan is daar kinders. Die pynlike aanpassing wat diens en arbeid verg, die onderdruk van self, lang dae en nagte sonder rus maak dat hul al hoe meer mekaar beskou as ouers, bondgenote in kommernis en vreugde, maar bysaaklik man en vrou.
Skielik is dit ‘n afgemaakte taak. In leë kamers sien hul mekaar weer raak – vergete rykdom. Albei het diep gely, veel prysgegee en baie bygekry. In die stil huis ontdek hul weer mekaar soos, in ‘n veraf tuin, die eerste paar.
Groete, Naomi M
Kommentare