Anderster spesies
Pa Malan was op sy laaste toe die herinneringe aan Cape Vidal se blinklywe en die bottels kerrievis wat hy en ma van daar af saamgebring het Pretoria toe nog sy oë kon laat blink. ‘n Hengelaarsparadys is dit wel.
Ons is na die iSimangaliso-vleilandpark nie agter Cape Vidal se vistersmanvreugde aan nie, maar vir die skilderagtige, afwisselende kus- , bos- en vleilandskappe. Die ongerepte strande is sielsverkwikkend. Ons is ook vir die dierelewe soontoe. Dit sluit olifante en renosters in. Vir ons was “anderster” spesies soos die rooi duiker, die samango-aap en die sierlike kuifkoptarentaal groter trekpleisters.
Ons boshuisie tussen die skyndenne
Ons wou ‘n nag in een van die afgeleë boshuisies tussen wuiwende skyndenne op die duine deurbring. Ongelukkig was die huisie nie net afgeleë nie – ook ietwat afgeleef. Nogtans maak die totale natuurpakket van iSimangaliso en Cape Vidal ‘n besoek aan St. Lucia se kontrei dubbel en dwars die moeite werd.
Van St. Lucia gepraat: dis dalk die hengelhoofstad van SA. Ry jy deur St. Lucia sien jy net bote, trekkers en gastehuise. In winkels se toonvensters staan die hengelstokke ingeryg. Op die strande le die spore van viertrekvoertuie kriskras. Plesierige uithangborde dra die hengeltema uit.
Varser kry jy nie! By die Fisherman’s Pub kan jy maar ‘n stukkie vis gaan koop – dis waarlik so vars dat die naasbestaandes nog nie eens weet dit is daar nie!
* Laat my ‘n geheimpie verklap aan diegene wat van karaktervolle houthuisies in die bos hou. Die Dolphin-oord op Ballito is eintlik bekend as woonwapark. Sy hutte is egter iets besonders. Boonop bekostigbaar.
Commenti