Ons, sprekers van Afrikaans, is die ouens wat maklik praat-praat in Tamatiestraat beland as ons met Nederlanders kommunikeer, het ek altyd gemeen.
Die slaggate in kommunikasie met die inwoners van daardie stamland is bepaald velerlei. Woorde wat in Afrikaans doodonskuldig kan wees, is soms in Nederlands tot aanstoot.
Een voorbeeld is die naam van ons spraaksame oud-minister van buitelandse sake, Pik Botha. In Nederland gebruik hulle daardie drieletterwoordjie vir ‘n stukkie van die manlike anatomie wat jy nie in gemengde geselskap op sy naam nie. Dit was waarom die Nederlandse koerante konsekwent na onse minister as min. Roelof Botha verwys het!
Pas hoor ek egter die mooi storie van ‘n Nederlandse besoeker wat hier te lande in die hospitaal beland vir ‘n operasie. Nadat al die voorbereidings afgehandel is, wil die streng suster weet: “Het jy al opelyf gehad?”
“Nog nooit in mijn lewe nie,” antwoord die Nederlandse pasiënt pront – natuurlik tot die totale verbystering van diegene om haar bed.
Sy, arme drommel, dag opelyf beteken of haar lyf al voorheen oopgesny is … en sy was nog nie tevore geopereer nie!
Maar terug na Nederland en hoe ons mense daar ons woorde moet tel. Wyle Marike de Klerk het dit agtergekom toe ‘n joernalis by haar wou weet wat haar stokperdjie is. Haar antwoord was om te stap. Top sou sy ontdek “stappen” beteken in Nederland onder meer ‘n kuiertjie van kroeg tot kroeg – wat die Engelse “pub crawling” noem.
Ene Gerrie de Waal van Kuilsrivier het weer in Amsterdam plesierigheid veroorsaak met haar beleefde navraag waar hulle op die bus moet “klim”. Die reaksie het haar verstom, maar die ander passasuers laat kraai. “Mevroutje, u mag oweral opklimmen. U mag zelfs op het dak klimmen. Bent u een aap? In Nederland stappen wij op de bus, hoor!”
Een van die lekkerste woordvergissings waarvan ek weet het egter niks met Afrikaans en Nederlands te make nie.
My storie is oor ‘n Amerikaanse meisie van New Hampshire, Anna, wat met ‘n Spanjaard, Jose Antonio Martinez D’Soler, getroud is. In haar nuwe tuisdorp in die land van kastanjette stap sy by ‘n plek in wat op ‘n haar soos ‘n Amerikaanse “drug store” lyk. Sy wil konfyt koop.
Sy vra toe vir ‘n “preservative” met ‘n aarbeigeur.
“‘n Aarbeigeur, mevrou?”
“Ja, maar as julle nie aarbei het nie, watter geure het julle?”
“Ek is bevrees, mevrou, niks met geure nie.”
“In Amerika kry ons dit in tien, twintig verskillende geure.”
“Haai, mevrou.”
Eers toe blyk dit sy bevind haar nie in ‘n “drug store” nie, maar in ‘n gewone Spaanse apteek. Rondom die woord “preservative” soos sy dit uitgespreek het) het verwarring gekom. Die verleë apteker dag sy soek kondome!
Comments