Eerste foto: Slaapkliniek – nag een Tweede foto: Slaapkliniek – nag twee
Een van die byvoordele van ‘n slaapmasker (“snorkel”) wat ek nou gaan verbeur, is die potensiële afskrikwaarde vir nagtelike besoekers met onheilige motiewe. Oningewydes kan hulle bepaald boeglam skrik as hulle skielik in die nagdonkerte deur die gedrogtelike voorkoms van ‘n slaper met dié blasende toestel op sy gesig gekonfronteer word.
Nie dat ek oor dié verlies lang trane huil nie. Maar beter om deur paniekknoppies, alarms, trellidors en ander konvensionele simbole van sekuriteit gefortifiseer te wees as om die res van jou lewe snags, by wyse van spreke, in jou “ruimtepakkie” te klim.
Toe die beslissing op mediese gronde val dat die uwe regtig nie daardie hulpmiddel nodig het om sy (heel beskaafde) snorkery te beheer en sy (nogal hortende) asemhaling egaliger te maak nie, was hy, trouens, buitengewoon verlig.
Ná twee nagte in die slaapkliniek by die Milnerton Medi-Clinic – die eerste die ene draadwerk en die tweede met my “snorkel” stewig op my neus – verkies ek verreweg die status quo. Selfs my huidige ontwrigtende slaappatroon van o.m. 03:00 wawyd wakker skrik, lyk skielik heel aanvaarbaar.
Met die masjien sou ek seker mettertyd beter regkom, en doller as kop-af dit kan tog nie. Maar van daardie twee nagte het ek nie juis dié klas herinneringe wat ‘n mens dromerig of sentimenteel stem nie. Allerlei eksterne faktore het ‘n bydrae gelewer.
Oor die klokkies het ek in die vorige blog geskryf. Die aanhoudende gelui het my half filosofies gestem.(Lees ook: Klokkies in die nag.) Op twee ander het ek allesbehalwe filosofies gereageer.
Van die eerste nag onthou ek by die ongemak van die dradenetwerk van my kop en lyf af rekenaar toe veral ook die ongemak van die sogenaamde “bottel” vir bepaalde aktiwiteite wat neig om met die ouderdom saam toe te neem. Om die “bottel” in posisie te hou sonder om die draadwerk te ontwrig, verg allerlei kontorsies.
Maar dis die neersit van die bottel op die grond wat nie in elke man se broek sit nie. Myne het ek omgedop, tuit na benede. Die volgende oggend was die mat die ene piepiekristalletjies. Die verpleegster, bedagsame meisie, het gemaak of sy dit nie raaksien nie.
Van die tweede nag onthou ek met buitengewone helderheid die onhebbelike snorkvolume van ‘n broeder in verdrukking in ‘n slaap-hokkie langs myne. Hy het die nag deur om die beurt geroggel, geknor en gesaag soos ek laas onthou van wyle Roef Jacobs van die SAUK – “Otterjasie” van die kinderprogramme – op ‘n weermagtoertjie grens toe in ‘n tent langs die Zambezi tydens die Bosoorlog. Ons ander het op ‘n streep uit die tent getou, kussing onder die arm om elders sielerus te probeer vind.
Ek glo daardie Roelf Jacobs-kloon is ‘n uitgeknipte masjien-kandidaat. Hoop dit help, maat!
‘n Stukkie advies wat ek graag met aspirant-hospitaalpasiënte deel, is om tog maar dop te hou as brekfis bedien word. Die graankossies se bord is om die een of ander rede met ‘n deursigtige stuk sellofaan bedek. As jy argeloos jou melk skink, is die hele wêreld om jou papnat.
Wie weet hoeveel inspanning dit vat om jou liggaaam onder daardie skuiftafel-affêrinkie oor die bed uit te wurm om in die badkamer toiletpapier te gaan soek vir die Groot Skoonmaak? ‘n Mens se knieë foeter al om die hele brekfissie op die bed om te keer – of minstens die melk, soos ek tot my stygende ergernis en verleentheid reggekry het om te doen.
Ai, wat is die slaap tog ‘n wondersoete ding – maar net nie in die hospitaal nie!
Comments