(Terloops, as julle dit nog nie gesien het nie, loer gerus na die mooi foto wat Melt geneem het van my en Naomi.)
Mia Nagtegaal vra wat is ’n goeie blog. “Een wat my lus maak om terug te gaan,” is my kort antwoord. (Lees ook gerus die kommentare wat ander bloggers gelewer het.)
Tog wonder ek of dit al is wat tel. Ek sou dalk wou sê Moenie te lank skryf nie, maar ek doen dit ook.
Wat dink julle?
Eintlik dink ek ’n blog is soos ’n spul kortverhale. Jy lees, en jy wonder wat die skrywer volgende gaan opdis.
Tog is blogs ook anders. Blogs is dagboeke, grepe uit ons menswees. En baie van ons weet hoe om die menswees effens fiktief aan te bied, selfs dié van ons wat onder ons eie name skryf.*
Dus?
Ek dink ’n goeie blog moet die leser uitdaag, sonder om noodwendig lelik te wees.
John Linnegar, ’n baie wyse man met jare se ondervinding in die uitgewerswese, sê ’n boek se uitleg moet spreek van “quiet good manners”. Die inhoud? Daaroor kan ’n mens baie stry.
Regoor die wêreld daag bloggers die wêreldorde uit. In Egipte, Iran, Irak, China, die VSA, ook in Suid-Afrika, oraloor het blogs ons die vermoë (die stem) gegee om twee goed te doen:
- om ons eie stories te vertel – hoe fiktief ook al; en
- om die klein mensie se perspektief, die gewone op ou straat, te laat geld teen die meesternarratiewe van die staat, van die massagodsienste en, dalk, selfs die massamedia.
Viva blogland! Ek wens net ek het baie meer tyd gehad om almal se blogs meer gereeld te besoek.
* Terloops: Viswyf het vroeër gesê sy dink soms dis ’n las om agter ’n avatar weg te kruip. Eie keuse, sou ek sê, maar is ons almal hier vergader volledig besig om oor die “ware ek” te blog? Wat is die ware Izak? En wil julle regtig alles oor die armsalige knaap se doen en late hoor?
Comments