Dit is mos maar hoe dit gaan: jy knoop ‘n pakkie lekkergoed vir ‘n kind toe, en net daarna, te laat, te laat, ontdek die ogies allerlei begeerlikhede wat hy/sy darem bitter graag ook daarin sou wou gehad het.
Met stories is dit nie anders gesteld nie. ‘n Boekie met stories soos “Tamatiestraat” kom van die pers – onmiddellik kom ‘n hele spul ander stories oor jou pad wat jy wens hulle was in. Danie Krÿnauw van Melkbosstrand kry in die voorwoord van “Tamatiestraat” ‘n pluimpie dat hy ‘n “storiemasjien soos min” is. Om gewig aan daardie woorde te heg, trek hy los soos ‘n mini-orkaan. Dis net stories, stories, stories ….
Een van dié waarmee hy gister opdaag, is ‘n mooie oor ‘n begrafnis – ene wat nog moet plaasvind. Hy jok natuurlik dat hy “self die oom gesien het”, want dit is nie ‘n splinternuwe storie nie. So ‘n verpersoonliking is egter part en deel van Danie se arsenaal. Dis waarmee hy baie mense uitvang.
Ewenwel, hier’s Danie se storie dan – hy noem dit “Die Vleispastei”: “Ek het self die oom gesien wat op sterwe gelê het. Sy dogter het by hom gewaak.
“In ‘n stadium het die oom n paar snuiwe gegee en sy dogter het gevra: ‘Pa, wat makeer?’
“‘Is dit nie jou ma se pasteie wat pa ruik nie?’
“‘Ja, pa, ma is besig om pasteie in die kombuis te maak.’
“‘My kind , gaan haal tog vir my een, asseblief.
“Die dogter is kombuis toe en toe sy teruggekom het , het sy gesê: ‘Sorry pa, maar ma sê pa kan nie een kry nie, want dis bedoel vir die begrafnis…’”
“Wat de v…v…v…v….. vleispastei!” wil ‘n mens amper uitroep.
Comments