top of page

WAS JY AL DAAR?

Uitmelkbos

Kaap Infanta – die naam het vir my ‘n romantiese klank. Telkens as ek dit op weervoorspellings hoor, het ek gewonder: waar le die plek, hoe lyk dit daar?

Enkele jare gelede het die walvisse ons Witsand toe gelok. Oorkant die Breederivier (mooi breed daar by die mond, moet ek sê ) het Infanta dapper kop bo water probeer hou in ‘n digte mis.

Op Kaap Infanta self het ek egter toe nog nie ‘n voet gesit nie – tot nou die dag. Tussen die De Hoop-hek en die Potberg-hek van die De Hoop-reservaat swaai ‘n pad weg Infanta toe. Op die ingewing van die oomblik vat ek dit.

Ons ry die 50 kilometer of wat, onder meer deur ‘n dorp sonder naam, wat ek later, by ‘n plaaswinkel, vasstel deel van Malgas is, of Malagas, soos sommige padborde nou beduie. Die naam is Diepkloof (foto 3). Mooi, netjiese plek met sy een voet as ‘t ware in die rivier.

Vir my moeite het ek op die pad pragtige Overbergse tonele gesien: enorme skaapkuddes, baie kraanvoëls, groen koring en geel canola.


Op Infanta het die wind gewaai waar hy wil – ons koffietjie was gou koud. Maar ek is bly ek het die plek gesien: dis die naaste aan Buffelsbaai se karakter, wat ek nog raakgeloop het, en diegene wat my ken, weet hoe lief ek vir Buffelsbaai is.

Een ander ding: ek wonder hoeveel Suid-Afrikaners het al daar ‘n voet gesit. Mense foeter mos Afrika in met hul 4×4”s om agterna te kom foto’s wys van slaggate, bedelary, jammerlike armoede en ander ellendes; of ons nie genoeg daarvan op ons eie drumpel het nie.

Maar dan ryg hulle trots die name af van al die vreemde plekkies wat aangedoen is. “Was jy al daar?” “Nee, ek was nie,” moet ek dan maar erken, en my gereed maak vir ‘n bejammerenswaardige blik.

Volgende keer as iemand my die was-jy-al-daar-vraag vra, sal ek gereed wees met ‘n antwoord: “Nee, maar was jy al op Kaap Infanta?”


0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page