top of page
  • Izak de Vries

Waarom so wit?

Nou pas weer ’n paar wonderlike oomblik beleef.

Knaap en die oorbure se seuntjie is omtrent ewe oud. Hulle speel oor en weer. Soms verdwyn knaap vir ure, of die jongeling kom speel hier.

Die oorbure het ons nou net genooi om die familie uit Australië te kom ontmoet. Knaap was reeds daar en daar is woes gespeel. Die klein Australiërtjies het saamgespeel en daar was ’n paar nefies en niggies ook.

Die Australiër werk as ’n kartonpakker vir 20 uur per week, en die res van die tyd spandeer hy, teen betaling, om mense se karre te “dokter”. (Dink warm maak / mooi maak / blink maak, dink stywer koppelaars en laer suspensie, dink spuitverf...)

Hy doen goed vir homself. Omdat hulle Moslem is, is die kinders in ’n privaatskool. Hulle word betaal omdat hulle kinders het. (Dis waar, die Australiërs betaal mense om kinders te kry.)

En hulle vertel verder. Die goeie hospitale. Die groot salarisse. Die gebrek aan misdaad. Hoe veilig dit is vir die kinders.

Hoe ook al. Net daar raak die ou heel nostalgies. (En onthou, geen alkohol nie. Een van dié teenwoordig is baie bekend in die hogere Moslemkringe.)

Hy sê: “Maar jy weet, ons kinders kan nie speel soos hier nie. Daar is nie genoeg van ons nie. Die kinders speel met Turke en Oosterlinge. Ek en jy verstaan mekaar. Jy’s wit, ek nie. Ons verstaan mekaar. Ons is van Suid-Afrika.”

Ensovoorts. (Hy praat nog vlot Afrikaans.)

Die wonderlikste deel van die aand was egter toe my knaap ingehardloop kom en vra (in Engels, want dis wat die maatjies praat): “Dad, why am I so white?” En hy wys na sy handjies se palms. (Onthou, my knaap se velletjie orals anders die kleur van baie donker sjokolade.)

“Jy’s so gebore,” sê ek.

“O,” sê knaap en draf na die maatjies. “Daddy says I was born like this!”

Lank lewe die nuwe Suid-Afrika.

1 view

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page