top of page
  • Izak de Vries

Waarom moet ons werk?


Waarom moet ons werk? Genade, daar is ’n rede waarom ek sou lank afwesig was. My baas is ’n wonderlike mens, maar sy vat nie “nee” vir ’n antwoord nie, en as die boeke moet verskyn, moet Sakkie spring.

Ek het my alie afgewerk sedert ek terug is van vakansie. (Ek voel dus al weer reg vir nog een!)

Gelukkig moet my vrou ook werk, en dan kry ek kans om met Knaap te speel. Knaap is ewe lief vir fliek as ek, so ons het saam Wall-E gaan kyk.

Wonderlik, wonderlik, wonderlik.

Werklik. As julle moeg is vir die ou storie van Rookie ends up scoring after meeting retired guru (dink Cars, Happy Feet en Kung Fu Panda), dan moet julle waaragtig dié een gaan kyk.

Ek gaan nie die storie weggee nie, maar dit het alles met werk te doen.

Die storie speel in die toekoms af. Op aarde is daar nog net robotte oor. En selfs die robotte krepeer. Wall-E is een van die min wat na ’n paar honderd jaar nog werk. En kyk, werk, dít doen die klein gedroggie met ’n vaart, vernuf en ywer wat selfs my baas se baas sal laat opkyk. Hy hou eenvoudig nie op nie.

Tot, eendag, toe ’n pragtige, en dodelike, Amerikaanse vroutjiebot hier op aarde verskyn. Sy kom kyk of daar tekens van lewe is, maar, tipies Amerikaner, skiet sy alles wat beweeg. Arme Wall-E moet behoorlik koes as sy begin lasers spoeg.

Okay, dis een deel van die storie.

In ’n ander deel van die storie seil die mensdom in allemagtige ruimteskepe rond wat beheer word deur rekenaars. Daar ís nog mense op dié skepe en hulle haal steeds asem. Verder vreet hulle sonder ophou en kyk TV, maar dis omtrent al. Die mense is almal so groot soos spekvarke. Manlik en vroulik is feitlik nie meer van mekaar te onderskei nie. Niemand werk nie en niemand loop meer rond nie. Hulle spandeer hulle lewens op hulle rûe voor TV-skerms. Val een van ’n lêstoel af, dan moet die robotte hom/haar help om weer op die stoel te kom. Hulle spiere is eenvoudig te slap om hulle enorme lywe te beweeg.

(Tog is daar nog kinders. Ek verstout my om te sê dié kinders word waarskynlik deur die robotte gekweek deur saad en eiers te oes by die mense, want laas toe my partner my toegelaat het, moes ek spierkrag gebruik vir die vir die “old in-out trick”, soos die jongelui van A clockwork orange dit noem.)

Ek gaan nie vir julle vertel hoe Wall-E en hierdie vet mense bymekaar uitkom nie, kyk self. (Terloops – dis ’n uiters kindervriendelike prent – meer nog as Kung Fu Panda. En tog is dit ook veel beter grootmensvermaak!)

Hoekom moet ons werk? Ek skat ons moet werk juis om nié te word soos daardie vet goed (mense) op daardie ruimteskip nie. Die ruimteskepe is parodieë op die luukse lynbote waarvoor die (vet) Amerikaners so lief is. Jy eet vyf keer ’n dag, word hand en voet bedien en ...

Om te werk en om liefde te maak is klaarblyklik iets wat ons weerhou daarvan om te wees soos daardie potjierolle.

Terloops, diegene wat hulle films ken, sal weet dat daar ’n paar heerlike verwysings is na 2001: A Space Odyssey. Kyk net na hierdie foto en gaan kyk hoe lyk die mense wat in Wall-E ronddool. En dan is daar die ruimteskip se rekenaar, Auto, wat probeer om vir HAL na te boots...


Andrew Stanton, die skrywer en die regissieur van Wall-E, het ’n wonderlike kop. Hy was verantwoordelik (as skrywer) vir Finding Nemo, Monsters, Inc., Toy Story (1 & 2) en A Bug's Life. Met Wall-E kry hy dit weer reg om daardie donker humor van Monsters, Inc. by ’n kinderfliek te betrek op so ’n manier dat Pa en Knaap albei kreun van die lekkerkry.

5 views

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page