top of page
  • Uitmelkbos

Waaragtige reaksie

Piet Croucamp resenseer Geheime revolusie: Memoires van ’n spioenbaas, deur Niel Barnard, met Tobie Wiese. (Boeke24) Dit gebeur so een keer in ’n jaar, as mens gelukkig is. ’n Resensent lees ’n boek en skryf ’n resensie wat in alle opsigte wys dat die boek hom laat dink het, sy gemoed laat opwel het, en hom ’n waaragtige reaksie op die boek laat skryf het. Croucamp is ’n taamlike sterk mening toegedaan, maar ek het die resensie heluit geniet. Hy laat mens onder geen illusie dat Niel Barnard nie Lavrentiy Beria na die kroon sou steek nie, om van Karla nie eens te praat nie. En die rede daarvoor is vir hom taamlik eenvoudig – Barnard se hoë dunk van homself is nie genoeg om sy memoires te red van groot oppervlakkigheid nie. Die vreemde uitwerking wat ’n resensie van hierdie aard het, is dat dit mens tog wel nuuskierig maak oor die inhoud van die boek, al is die resensent se beletsel hoe groot. Dit mag so wees dat die boek die memoires van ’n staatsamptenaar is, en nie van ’n spioenebaas nie, soos Croucamp sê, maar die kanse is ewe goed dat daar in Barnard se hubrus tog ’n paar fabrieksgeheime verbygeglip het.

Frederick J. Botha resenseer Kamee, deur Roela Hattingh. (Boeke24) ’n Debutant wat haar buiging maak met ’n bundel kortverhale is amper meer seldsaam as ’n dramaturg wat gereeld tekste gepubliseer kry. Frederick J. Botha (vir my ook ’n nuweling op die resensie-toneel, maar dit mag wees dat my geheue my in die steek laat) slaan Roela Hattingh se debuut baie hoog aan. Hy benader dit tereg vanuit ’n akademiese hoek. Daar is só min nuwe kortverhaalbundels dat die resensent amper verplig is om dit baie ernstig analiseer, sou die bundel dit regverdig. Hierdie resensie sal vir sowel student as outeur baie beteken – die eerste taksering van ’n noemenswaardige nuwe talent, en Botha se analise is geskryf om nog lank te hou.

Dineke Volschenk bespreek Moestas, deur Deborah Steinmair. (Rapport Boeke) Wat ’n eienaardige resensie! Dineke Volschenk se bespreking het presies dieselfde uitwerking as iemand wat ’n grap oorvertel wat hy eintlik gehaat het. Sy prys die boek se goeie hoedanighede, analiseer dit heel knap (sê ek, wat die boek reeds gelees het), maar dis duidelik dat die baldadige snaaksigheid haar nie laat glimlag het nie, en dat haar simpatie eerder lê by meer sensitiewe lesers wat nie sal kan aanvaar dat ’n mens oor kindermolestering uit heeltemal ’n ander hoek kan skryf as die gebruiklike een van begripvolle medelye nie. Uiteraard is Volschenk se reaksie ’n geldige een, al is dit baie konserwatief in ’n tyd waarin slagoffers van pedofiele dikwels celebrity-status verkry.

Joan Hambidge bespreek Boomkastele, deur Schalk Schoombie. (Rapport Boeke) Daar het ’n element van noodwendigheid by die resensies van Joan Hambidge ingekruip. Jy verwag die tematiese uitpak van alles wat die werk onder bespreking aansny, jy verwag die kontekstualisering, jy verwag die teoretiese skakels – en jy kry dit. Sy is baie deeglik daarmee. Dit gebeur egter ook dat sy soms iets laat verbygly. Sy verwys hier in die verbygaan na ’n karakter genaamd Hannes Moerdyk. Só ’n van val binne ’n Suid-Afrikaanse konteks jou dadelik op – dit skep onmiddellik ’n verband met die argitek van die Voortrekker-monument en talle ander bekende openbare en kerkgeboue. Te oordeel na die aard van die roman wat sy hier beskryf, sou die outeur daardie van met opset gebruik het, en mens kan (praat van verwagting!) sekerlik gedink het Hambidge sou dit vir die koerantlesers uitgepluis het.

Joan Hambidge bespreek Skadu oor die sonwyser, deur Kobus Lombard. (Rapport Boeke) In Hambidge se ander, “aforistiese” styl geskryf. Vir studente van die resensiekunde: Vgl hierdie resensie met die een oor Boomkastele. Interessant die gebruik van aanhalings, en die tipografiese wit op die webblad.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page