top of page
  • Izak de Vries

Waar was jy toe... André P. Brink sterf?

Karina Szczurek en André P. Brink, op 13 November 2014 Ek weet presies waar ek was toe ek hoor van André P. Brink se dood. Ek weet selfs na watter CD ek geluister het. Ek is Saterdagoggend vroeg deur Wellington toe, want die Wellington-gesinstak van die ATKV het ’n entrepreneursgeleentheid vir skoolkinders aangebied. Op pad terug, net buite Wellington, lui die foon. Dit is ’n joernalis van Eye Witness News. Toe hoor ek: André P. Brink se lang, lang skaduwee is nie meer nie. Ek glo nie ek is reg, of het selfs die reg, om ’n huldeblyk te skryf nie. Ek gaan eerder vir julle vertel wat ek in Wellington gedoen het, want daar, net ’n klipgooi van Breyten Breytenbach se geboortehuis, is ’n geleentheid aangebied wat vir André P. Brink sou laat glimlag. Die Wellington-gesinstak van die ATKV het begin om entrepreneurskapklasse aan te bied vir jong leerders uit die distrik. Daar is hopeloos te veel werkloosheid en té min kinders sal ooit in die formele sektor werk kry. Nou werk die ATKV saam met die Polisie, die Plaaswerkersforum, AgriMark en die plaaslike skole om ’n aantal kinders ’n intense kursus te gee in entrepreneurskap.

A.O. Pierre Hugo (Suid-Afrikaanse Polisie), Klaas Morkel (Plaaswerkersforum), Herbert Sills (Voorsitter van die ATKV Wellington-gesinstak), Petrus Fortuin (Mentor), Jack de Jager (ATKV-lid), Roné Sills (ATKV), Tharina schweidler (ATKV), Jimmy Cloete (Mentor), Barend Sylvester (Agrimark), Melvina Mason Hearne (ATKV) en Niklaas Thomas (Entrepreneur) Die projek dek ’n formele kurrikulum waarin die kinders geleer word hoe om produkte te identifiseer, hoe om professioneel op te tree teenoor kliënte, hoe om te bemark en selfs hoe om later logo’s te ontwerp vir hulle eie besigheid. AgriMark het saad geskenk waarmee die kinders kan begin woeker, maar die jongelinge moet ook allerlei praktiese goed doen om meer uit te vind oor hoe bestaande besighede in hulle omgewing werk. By elke skool is ook ’n mentor, iemand wat reeds op plase werk, wat die kinders sal lei en sal raadgee met die kweek en versorging van hulle saailinge. Uiteindelik sou ’n mens hoop dat hulle sal hekel, of brei, of houtwerk doen of karre was, of wat ook al, solank hulle self sal begin besef hulle moet geld maak deur dienste te bied wat ander benodig.


Niklaas Thomas, wat ’n mens! (Kliek hier vir ’n YouTube-video) Vanoggend was Niklaas Thomas, daardie bobaas motorwasser daar om die kinders aan te moedig. Mense, was dit ’n belewenis. Hy is nie net slim nie, hy het ook ’n fantastiese aanslag met kinders. Onnies, neem kennis. Ek sal Niklaas vir ENIGE skool aanbeveel. (Ek weet nie hoe goed sy Engels is nie, maar sy Afrikaans is pragtig.)

Niklaas bekoor oud en jonk Afrikaanse organisasies, soos die ATKV, doen deesdae oneindig baie vir die mensdom. Dit is wat André P. Brink ook in sy lewe gedoen het. Ná ek my feite op die iPad getik en ’n laaste keer bladgeskud het met Niklaas en die groot name van die ATKV-tak, klim ek en my Avanza en ry terug huis. Ek kies Johannes Kerkorrel en was besig om te luister na “Hillbrow”, toe die foon lui en Eyewitness News se verslaggewer my vertel  van André P. Brink. Al wat ek vir die res van die pad kon dink was: André sou ook trots gewees het op dit wat vanoggend op Wellington gebeur het. Brink het naby ons gewoon en tot onlangs het ek hom nog gereeld fier en regop sien stap om ’n koerant te gaan koop, kierie en al. Sy grootmaakdogter, Olga, het in 2013 matriek geskryf by St George’s Grammar School, waar my seun ook is.

Olga, van wie André in ’n Vurk in die pad vertel, gedurende 2012 in my ateljee geneem Dit was ’n voorreg om soms in sy dampkring te beweeg. Dit was egter ook ’n enorme voorreg om ’n paar uur na sy dood te beleef hoeveel Suid-Afrika reeds ten goede verander het in André P. Brink se leeftyd.

André P. Brink en sy uitgewer, Alida Potgieter, van Human & Rousseau, geneem op 13 November 2014 in The Book Lounge

6 views

Recent Posts

See All

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page