top of page
  • Uitmelkbos

WAAR’S DIE LEEU?


‘n Skilder hou by ‘n karaktervolle kremetart in die Krugerwildtuin stil om dit vinnig te skets. Op daardie oomblik daag ‘n stowwerige motor met ‘n GP-registrasie op. Binne is pa, ma en vier kinders. Dit lyk of dit vir die verwaaide gesinnetjie ‘n lang, frustrerende dag kon gewees het.

“Wat sien julle?” vra die nuwe aankomeling hoopvol. “Ons kyk na die boom,” antwoord die skilder. “F… boom,” brom die Gautenger. Toe trek hy weg met ‘n vaart wat sy verontwaardiging verraai.

Wildtuinbesoekers kan erg uiteenlopend wees. Een sarsie soek net leeus. ‘n Ander sal amper bo-oor ‘n leeu ry om ‘n roofvoël te kiek (of ‘n boom te skets). Jy kry diegene wat net rondry van vroeg tot laat asof iets hulle jaag, en diegene wat die rustigheid van ‘n koelteboom by ‘n watergat verkies.

Jy kry mense met eerbied vir die natuur en die etiek van wildbesigtiging. Jy kry wildewragtigs wat geen snars omgee nie en reëls buig en breek soos hulle lus kry, en veral by piekniekplekke van hulleself ‘n lawaaierige oorlas maak. Die nuwe geen-alkohol-vir dagbesoekers-reël is op laasgenoemde se rekening en hul rekening alleen.

‘n Subspesie van die chroniese leeujagters is wat ek wil noem die ankermanne. Dit is die ouens wat anker uitgooi as hulle snuf in die neus kry ‘n leeu (of luiperd) is dalk in die omgewing. Dan klou hulle, in afwagting op die ontwykende dier se verskyning, verbete aan hul staanplek, soos nete – ongeag of iets gebeur en hoe die motors om hulle opdam, soos almal beur en nekke rek om “ook te sien”.

Net buite Satara se kamphek was nou die dag een van daardie leeus waarvan almal gehoor het, maar niemand presies weet waar om voor te soek nie. Toe ek die oggend daar verby is op pad na N’wanetsi vir ‘n koffietjie was ‘n ou in ‘n wit kombi op die toneel geanker. Hy het iets gehoor van ‘n “male lion stalking an impala”, maar “you can’t see it now”.

Ons is met die teerpad N’wanetsi toe en met die rivierpad (die S100) terug. Ons het baie mooi kameelperde, waterbokke (ook klein waterbokkies, of “druppeltjies”, soos Tokkie hulle noem) en sebras gesien. By die natuurskone Gudzanidam in die driehoek wat die S100 en die S41 ‘n klipgooi van die Mosambiekse grens vorm, was olifante, sebras, rooibokkies, allerlei reiers en ‘n krokodil.

Toe ons terugkom, was die wit kombi nog op die toneel, plus ‘n pakkaas ander voertuie kruis en dwars geparkeer sodat niemand kon verbykom nie. ‘n Vrou met ‘n besorgde frons het beduie daar is “one male lion”, maar hy is in die skaduwee van die bos. Sy soek hom nog, het sy erken.

Ons is mik-mik deur die nouste van nou gapings om gou in Satara ‘n sakie of twee te gaan afhandel. Toe sien Tokkie die maanhaar. In die skadu maar onmiskenbaar. Sy beduie en ek sien hom ook.

Toe ons weer verbykom was die kombi nog daar. En die bekommerde vrou met die frons. Weet nie wat hulle intussen gesien het nie.

Ons het ‘n rukkie by die uitgestrekte Nsemanidam op die Orpenpad (die H7), stilgehou en is toe met die S40 na die Girivanadam ‘n paar kilometers van die grootpad af. Daar het ons voorheen al leeus gekry, en ook ‘n reuse-swerm rooibek-kweleas in ‘n boom.

Hierdie keer was daar niks. Maar die rustigheid onder ‘n koeltemoom was tasbaar. Ons toebroodjies en koffie uit die warmfles was soos koningskos.

Ek onderskat nie leeus (of luiperds) nie, en is ook opgewonde as ek hulle raakloop. Ek wonder darem: heg party mense nie te veel waarde aan ‘n vinnige glimps van een van die Groot Katte ten koste van baie ander Wildtuin-genot wat hulle kon beleef het nie?

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page