top of page
  • Uitmelkbos

WAAR IS BIBI KOO?

Een klein subtema van Die Volksblad se ywer in die jare 80 om die erge diskriminasie teen Asiërs aan te vat, bly my besonderlik by. Dit is die stryd wat gevoer is oor Bibi Koo, ‘n Chinese meisietjie uit Taiwan.

Bibi is in 1983 toegang geweier deur ‘n onversetlike Laerskool Harrismith (waar, ironies genoeg, Fanie van Wyk, geliefde swaer van die uwe, die skoolhoof was). Sy was 11 jaar oud en in standard vyf (graad sewe). Die beheerraad het die antieke Vrystaatse wet van 1890 as struikelblok voorgehou; (Die) Volksblad het volgehou dat dit net ‘n rookskerm vir die raad se rassevooroordeel en onwilligheid is.

Die openbare mening het nogal verrassend vinnig in die rigting van klein Bibi geswaai. Teen soveel opwellende simaptie was die beheerraad nie lank bestand nie.

Nadat Bibi by die skool verwelkom is, is twee briefies uit die Taiwanse ambassade in Pretoria by (Die) Volksblad afgelewer om, met die ouwêreldse hoflikheid wat by daardie mense tweede natuur is, die koerant vir sy bydrae tot ‘n oplossing te bedank.

T.C. Chiang, persbeampte, het met grasie sy pluimpie uitgedeel: “You are so responsive and responsible, as a newspaper, to publish the remarkable editorial(-s) on the case of Bibi, that I must express to you my heartfelt appreciations. The very small Chinese community in this country is thrilled to see that there is a true friend of ours in the Free State.”

H.K. Yang, die ambassadeur, het hom met, eenderse grasie, met daardie dankie vereenselwig: “In view of the fact that Die Volksblad has an important role to play in the formation of public opinion in the Orange Free State, your editorial reflects not only understanding but also far-sightedness and wisdom.”

Nou-ja, Bibi en (Die) Volksblad het daardie ronde gewen. Die meisie, glo ek, was in ‘n sekere sin ook ‘n bondgenoot van die koerant om die sogenaamde driekamer-parlement (1984 – 1994) só te bevorder dat ‘n “konserwatiewe” provinsie soos die Vrystaat in die referendum later dieselfde jaar (1983) solied ten gunste daarvan hul kruisies gaan trek het. Wonder nogal waar Bibi Koo haar nou bevind en of sy van haar rol in daardie stukkie geskiedenis bewus is.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page