“Laat elke ou Tukkie sy glasie vol maak…
Gelukwensings is welkom! So het ek Saterdagaand na die slagting op Loftus aan ‘n klompie vriende ge-SMS. Wie verjaar? het een grapjas laat terugweet. Gisteroggend was die kerk vol, want dit was nagmaal. Ek het daardie vriend nie gesien nie. As ek het, sou ek sweerlik onder kollekte vir hom tong uitgesteek het.
Die Bulle het nie net die arme Chiefs vermorsel nie, maar ook vir volhardende veteraan-ondersteuners soos die uwe die groot lekkerkry besorg om ‘n slag behoorlik “pê” te kan sê. Pê, pê, pê – veral vir al my Stormervriende wat al lank sonde soek.
Kyk, ek weet vir die eindstryd van die Super 14 was Suid-Afrika bankvas agter die Bulle. Ook in die Kaap was “blou bloed” volop. Maar een swaeltjie maak nie somer nie en een Saterdag se solidariteit vee nie jare se teistering uit nie. Daarom wil ek iets sê, en ek gaan dit sê.
Mos ‘n snaakse nasie die Kapenaars. Derduisende oud-Maties sit op Loftus se paviljoene en “Province, Province” hul harte uit as die WP of die Stormers in Pretoria speel. Kom jy as oud-Tukkie Kaap toe en eis vir jou op Nuweland dieselfde reg op, kry jy nie net die Suidoos nie, maar alle soorte winde van voor.
Jy kan tog nie in die Kaap woon en vir die Bulle skree nie, hoor ek dikwels stom verbaas dat ek so iets kan doen. En soms nogal erg verontwaardig. Selfs driftig. Die implikasie is dat jy die een of ander soort verraderlike troubreuk pleeg. Beledigings van die Blou-Bul-kultuur, en veral van Bulle-ondersteuners met hul ”horings en bierpense” moet jy ook maar filosofies verduur.
Ek glo daar sit iets sielkundigs agter, wat ‘n deeglike psigiater seker op sy sofa uit ‘n tradionele Streeptrui sou kon trek. Maar laat my nie probeer diagnoseer nie. Ek soek nie op hierdie anderster soort “blou Maandag” baklei nie.
Al wat ek wil doen,.is om luid en duidelik hier uit te troep: dis lekker om ‘n Blou Bul te is, te is …. Veral na Saterdag, toe die mite van “verbeeldinglose” Blou-Bul-rugby of “net skop-skop-skop” deur die rekord-agt drieë darem seker finaal begrawe is.
Een keer ‘n Blou Bul, altyd ‘n Blou Bul, seg ekke, al het ek vir die Cheetahs ook ‘n sagte plekkie (ek was darem twee skofte van 12 jaar elk in Bloemfontein). Ware rugbyplesier verbind ek nog maar altyd aan Loftus en Pretoria.
Dis waarheen ons Tukkie-generasie van die laat 50’s af gestroom het as groot geeste soos Frik du Preez, Mof Myburgh, Louis Schmidt, Moaner van Heerden, Piet Uys en daardie snare in hul ligbloutruie van destyds die krane oopdraai.
Ek was die onvergeetlike dag op Loftus toe groot Frik nogal in die Curriebeker-eindstryd teen die einste WP ge-“place”, ge-“drop” en ge-“score” het. Ek was ook daar toe Frik in sy Springboktrui deur die Franse storm dat hulle doer spat, toe Joggie Jansen met sy plettervat die Leeus se losskakel Richard (meen ek) Sharp met die aarde gelyk maak en toe Syd Nomis teen die All Blacks onderskep en ooplê doellyn toe terwyl Gerhard (Spiekeries) Viviers dit oor die radio uitkreet: “Siddie, Siddie, Siddie….”
Loftus beteken nie vir my net Springbokrugby of Blou-Bul-rugby nie. Dit beteken ook Tukkie-rugby. Epiese Tukkies-Bobbies-kragmetings is daar uitgespook. Sal ek vergeet die dag toe my Kollegemaat die losskakel Nic Bojé die Bobbies so ge-Morné Steyn het met sy akkurate skepskoppe? Of, voor hom, Anton Prinsloo se vlymskerpe breekslae? Johan (Piepies) Pieterse se kraglopies op senter?
(Een van Anton se breekslae, in ‘n intervarsity teen Wits, was so verbluffend dat ek, wat toe al ietwat dof was van die baie bier, weke later in die fliek op “African Mirror” eers gesien het hoe hy deur die Witsies sny!)
Ook die Transvaalse kampioenspan Diggers (met Hennie van Zyl op die vleuel) se neuse is in Loftus se gras ingeboor. Nog ‘n Kollegman, die skrumskakel Proppie Goosen, was een heuglike keer die spesiale doring in hul vlees.
So lojaal was ons studente daardie tyd dat ons selfs vir tweedespan- of derdespanwedstryde na Loftus se B- of C- veld sou opruk – en dan in rusies met die opponente se ondersteuners betrokke raak wat amper ons grootbekke laat bloei het.
Die hoofpaviljoen was normaalweg nie vir ons beskore nie. Watter student se sakgeld kon daardie dae sulke luukses bekostig? Maar intervarsities het die helfte van die hoofpaviljoen aan die Tukkie behoort en die ander helfte aan die Witsies. Die Tukkieliedjies het ek (wat nie juis ‘n sanger is nie) almal van buite geken. Ons en die Witsies het mekaar uit volle bors probeer doodsing en met spitsvondighede gekoggel terwyl ons helde die stryd op die veld uitspook.
Voor intervarsity het ons aand vir aand ons “sing-songs” op Loftus se hoofpaviljoen gehou wanneer ons neuse eerder in die boeke behoort te gewees het. Op die foto hierbo is so ‘n Loftus-“sing-song” – ek meen in 1961. Die dirigent is Jan Lombard wat dokter geword het. Die ou met die dikraambril wat in die voorste ry so vooroor sit, is Is Arend de Waal wat later in Windhoek skoolhoof was.
Dis 50 jaar later. Maar ai, ek wens ek kon Saterdag weer op Loftus gewees het. Saam met die opgewonde Wynie Strydom wat as toegewyde bestuurder van die Bulle telkens demonstreer watter passie en drif in Pretoria heers – een karaktertrek van die Noord-Transvalers wat van die Bulle so ‘n spesiale span maak. Saam met die hordes ondersteuners in blou, met hul vlae en horings, hul geverfde gesigte, hul plakkate en baniere. Saam met die Blou-Bul-meisies wat ongetwyfeld die oulikste van almal is.
Dis deesdae natuurlik ‘n totaal ander Loftus as die oue wat ek leer ken het – baie groter, baie indrukwekkender. Maar die bruisende Loftus-gees onthou ek goed. Daarmee kan ek my ten volle assosieer, en met die kampioen-rugby van Victor Matfield se krygers nog des te meer.
Gun my dan om te sê: “Pê, pê en nog ‘n keer pê!”
Comentários