top of page
  • Uitmelkbos

VYFTIG JAAR LATER …


Jong Janet Leigh

My onvleiende verwysing na die gewese Franse sekskat Brigitte Bardot (75) as “uitermate beplooi”, het my laat wonder oor Janet Leigh, die fyn blondekoppie wat onder die stort in die legendariese Hitchcock-riller Psycho met ‘n mes doodgekap is (vorige blog).

Psycho dateer uit 1960 – vyftig jaar gelede. Leef me. Leigh nog en hoe oud sou sy nou wees?

Me. Leigh leef, helaas, nie meer nie. Sy is op 3 Oktober 2004 op ouderdom 77 in haar slaap oorlede weens vaskulêre probleme. Die Byl kap oral.


Ouer Janet Leigh

Na Psycho het sy dus nog 44 jaar geleef, en na haar rol as Marion Crane in Psycho nog verskeie goeie rolle vertolk, onder meer in The Manchurian candidate and Touch of evil. Sy het uiteindelik in 60 rolprente gespeel, onder andere teenoor Robert Mitchum, Ezio Pinza, James Stewart, Dean Martin, Jerry Lewis, Frank Sinatra, John Wayne en Dick Van Dyke.

Die storttoneel in die Bates Motel in Psycho was egter die hoogtepunt van haar loopbaan. Dit het vir haar ‘n Golden Globe en ‘n Oscar-benoeming verwerf as die beste ondersteunende aktrise, en het tot drie opvolg-rolprente gelei. Sy het later selfs ‘n boek oor Psycho geskryf.

Daarin het sy die geheimpies uitgelap dat sy vir die verfilming van die storttoneel persoonlik sewe dae lank in die stort was, en dat sy daarna, soos vele fliekgangers, nooit weer van stort wou weet nie.

Ek het al vergeet dat sy in ‘n stadium getroud was met Tony Curtis. Gelukkige Tony! ‘n Dogter uit hul huwelik, Jamie Lee Curtis, het ‘n ster uit eie reg geword, maar haar sprankelende ma was mooier.


Anthony Perkins

Anthony Perkins, wat die rol van die moorddadige moteleienaar in Psycho gespeel het, is al in 1992 op 60 oorlede aan komplikasies wat veroorsaak is deur die HI-virus.

Perkins is in 1956 vir ‘n Oscar benoem vir sy ondersteunende spel in Friendly Persuasion, waarin hy saam met Gary Cooper verskyn het. Ook in sy geval was dit egter Psycho wat hom en sy karakter Norman Bates rolprentlegendes gemaak het.


Jong Doris Day Jong Debbie Reynolds

* Twee van my gunsteling-“meisies” van daardie dae wat nog leef, is Doris Day (86) en Debbie Reynolds (78). Doris se trefferliedjie Que Sera Sera (Whatever will be will be) laat nou nog my bloed tintel. Op Debbie in die titelrol van Tammy in die rolprent Tammy and the bachelor (1957) het die uwe smoorverlief geraak

“Tammy, Tammy, I am in love”!

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comentarios


bottom of page