top of page
  • Uitmelkbos

VYFTIENDE TJEK

Vakansieplesier kom mos in drie fases. Dis die uitsien daarna, die direkte belewenis daarvan en dan agterna die herbelewenis wat kom met die uitsortering van jou foto’s, wat elk by wyse van terugflitse sy eie herinneringe bring.

Wat die wintervakansie in Sabiepark betref, is ek by fase 3. Ons het Donderdag aangeland in ‘n Kaap wat saans koeler word as wat ek onthou. Dan het ek gedink vanjaar se Laeveldse winter het byt!

Sonder dat ek presies boek gehou het, sou ek reken hierdie was plus-minus die Van Deventers se twaalfde wintervakansie in die bos sedert ons ons wegloop-plekkie Tarlehoet aangeskaf het. Die foto’s – hope en hope daarvan – getuig dat die lekkerte om daar te gaan oorwinter geensins afgeslyt geraak het nie.

Die ander soort leefstyl – sonder elektrisiteit, elke aand se vuurtjie, Skukuza se kerk, Wildtuin-uitstappies, gholfbaan-ontbyte en dies meer – is klaar genoeg om tam batterye te herlaai. Dan kom die natuur se gawes en die saamkuier met familie en vriende as bonus op bonus; iets soos ‘n dertiende en veertiende (selfs vyftiende!) tjek vir ‘n kripvreter.

Kleinkinders is die Here se geskenk vir ‘n oumens, het John Vorster gesê. Van ons “geskenke van die Here” word die tweeling, Jacob en Thomas Claassens (5), nou al Sabiepark-veterane. Kon dit werklik al hul vierde besoek gewees het? Hul kennis van die veld, diere en voëls bevestig dit. Hulle het, onder leiding van hul pa, Brent, hulleself boonop as prima-vuurmakers ontpop.

Vir Christopher (5 maande) was dit ‘n eerste kuier, ietwat gekompliseer deur ‘n dreigende eerste tand. Maar as hy en sy mamma, Marisa, eers begin speel en jil, is tandekry gou vergete. ‘n Middelslag-koffer het vir die kleine C. onortodokse maar gerieflike slaapplek gebied by meer as een piekniek.

Oupa en Ouma Hennie en Tokkie hoop werklik hul voetjies – en ook hul pleeg-nefie, Michael van Deventer, s’n – gaan nog baie spore op Tarlehoet se werf trap.

Kuiers om die kampvuur met ou en nuwe vriende is beter oumens-medisyne as Timjan en perdesalf. Twee studentemaats van 50 jaar gelede, Pierre le Roux en Johan Bekker, was onder vanjaar se kuiergaste – ‘n buitengewone voorreg dat vriendskap so kan hou en hou.

Onder die nuwe Sabieparkvriende is Gert en Caroline (uitgespreek Karoliene) Pols van Heerhugowaard. ‘n Internet-vriendskap het gestalte gekry toe hulle by Tarlehoet se motorpad indraai. Later het hul kinders, Nick en Helen, opgedaag met hul gades, Guus en Marleen. Toe was op die stoep die volgende Nederlandse stede verteenwoordig: Heerhugowaard, Groningen, Utrecht, Haarlem en Rotterdam. Die mooie Marleen het in die gasteboek geskryf: groeten uit Deventer. Sy ken sowaar die stad aan die Ijssel waar die uwe se oer-wortels lê.

‘n Rekenaar-probleempie is met die gesamentlike Hollandse vernuf vinnig reggedokter. En as die gesellige kuiertjie op Tarlehoet se stoep my van een ding oortuig het, is dat Hollanders ewe veel van hul wyn hou as hierdie “emigrant” wie se stamvader, Gerrit Jansz, hom in 1687 as vryburger by Stellenbosch gevestig het.

Die toetse teen die All Blacks en die Wallabies het Sabiepark se TV-kamer soos nooit tevore nie uit sy nate laat bars. Maar ek sweer dis daar, met ‘n bier en ‘n stukkie biltong in die hand, veel geselliger en lekkerder as op die paviljoen.

‘n Stukkie swaar was dat Dawie en Annatjie Strydom deur kwinte en kwale van die ouderdom gouer moes omdraai huis toe as wat hulle graag sou wou. Weet nie of hulle weer hul geliefde Sabiepark sal kan geniet soos vir so baie jare nie. Maar so haal die tyd ons almal in.

Aan die dierefront was die ongetwyfelde hoogtepunt die luiperd-vangs in Maroelalaan, Sabiepark. My vinger op die Canon se sluiter het skoon die bewerasie gekry toe ek die pragdier en sy prooi, ‘n vlakvarkie, eers mooi in fokus het. Ses hiënas het in Worsboomlaan hul eie vleisfees gevier toe een van Sabiepark se blouwildebeeste weens ouderdom sy kop neerlê.

By Tarlehoet se watergat het o.m. koedoes, sebras, rooibokkies, bobbejane en vlakvarke kom drink. Die duikertjie Witnek het ‘n vaste opvolger gekry. Die eerste muskeljaatkatjie in jare is deur Tokkie opgemerk.

Gebande muishondjies en tarentale was gereelde besoekers. Die enigste oorlewende volstruis was na ‘n lang afwesigheid teenaan die huis

Die bosnagape het so tuis geraak dat hulle selfs ons kaas nie ontsien het nie.

Hul onversadigbare piesanglus het vir menige huismoles gesorg. Ook ‘n uil en vrugtevlermuise was na donker op die stoep bedrywig. Die klein nagapies moes hulle maar die mededinging (en bedreiging) laat welgeval.

By die piekniekplek het olifante ‘n tradisionele strooptog uitgevoer en o.m. n paaltjieheining platgeloop.

In die Wildtuin was ‘n 100 of meer nimmersat-ooievaars by die Sunsetdam ‘n hoogtepunt. Op die pad tussen Onder-Sabie en Tshokwane het ons troppe wild soos lanklaas gesien. Twee ratels het vir ‘n Van D-eerste gesorg. Lake Panick, met sy verskeidenheid watervoëls, seekoeie, njalas, bosbokkies en nog wat, was, soos altyd, ‘n vrugbare en lonende uitkykplek.

Tokkie hou niks van die volgende versie nie. Maar ek het hom een aand langs die kampvuur uitgedink en gaan hom hier neerpen. Daarmee, tot siens Sabiepark tot in Desember:

Eendag sal ek wel moet groet

Vir oulaas en finaal,

Stilletjies sal ek bly hoop –

Eers as die Here my kom haal.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page