Die Vyf Grotes (of die Groot Vyf, as u wil) op een slag – dit is die ietwat ambisieuse Wildtuin-wens van die tweeling-keinkinders Jacob en Thomas Claassens (6).
Hulle sal moet opskud. Die beste wat hulle nog gevaar het, is twee op een slag (renoster en buffel). Ek en Tokkie het ook al olifante en buffels (al twee mooi troppe so saam-saam) en ‘n keer ‘n buffel en ‘n saalbekooievaar (een van die Vyf Grotes van die voëlryk) op een slag gesien.
Die Vyf Grotes op een dag is hoogs haalbaar met ‘n bietjie geluk aan jou kant. Dit kan ons uit persoonlike ervaring getuig.
Jare gelede is die piekniekplek Hlanguleni in die Wildtuin deur ‘n Parkeraad-amptenaar (nou Sanparke-amptenaar) by my aanbeveel met twee oorredende motiverings: sy aardse, afgesonderde karakter en die feit dat die pad daarheen gereeld die Vyf Grotes oplewer – “tot twee maal op een dag”.
Ons is gek na Hlanguleni. Só ‘n gelukkie het ons egter nog nie oorgekom nie.
Soms sukkel ‘n mens maar om die Vyf Grotes-legkaart te voltooi. Die laaste stukkie of twee bly jou ontwyk. Vanjaar was daardie stukkie wat die Van Deventers net nie kon raakvat nie, die koning van die bos, panthera leo, of te wel die leeu.
In drie weke het ons hope olifante gesien, baie buffels, drie renosters, twee luiperds vlakvoor ons op die pad – g’n leeu van ‘n dag oud nie.
Tot Vrydagmiddag. ‘n Vinnige draaitjie by die Krugerhek in bring ons vinnig by ‘n verkeersknoop. Iewers, hoor ons, lê ‘n luiperd laag op die grond. Die mense in ‘n CL-Mercedes het glo ‘n onversperde uitsig, maar dié beskerm hulle asof hulle lewens daarvan afhang. Die Merc beweeg nie.
Gefrustreerd, ry ons verder. Op die Doispanepad dam motors weer op. Tokkie sien eerste die swartkraagmannetjie langs die pad. Toe kom ‘n tweede uit die bos. Hulle swaai en swenk tussen die motors deur, en ek kry pragtige foto’s.
Later vestig ‘n mede-Sabieparker ons aandag op nege welpies in die rivierbedding – jy sien net koppe en oortjies. Dis ‘n bietjie ver maar die Canon se lang lens maak dit net-net.
‘n Wenk: as jy op die Doispanepad ry, bekyk gerus daardie rivierbedding oorkant die uitdraaipad na die N’waswitshaka -watergat (die S65) deeglik. Rek maar die nekke. Dis nie verniet nie bekend as ‘n Vyf Grote-uithangplek.
Deur die jare het ons self ook al leeus (meer as een keer), olifante (dikwels) en buffels in daardie bedding gesien. Renoster en luiperd is nie ver daarvandaan nie raakgeloop.
En om die Vyf Grotes op jou lysie af te tik – dit bly darem maar ‘n adrenalien-opwekker soos min.
Comments