top of page
  • Uitmelkbos

VUURWARM SCOOP OOR FW

Met die dood van FW de Klerk is een van die helder herinneringe wat by my opkom, daardie dramatiese dag 2 Februarie 1989 toe hy uit die bloute leier van die NP geword het.

Die hoofberig in Die Volksblad met die kraakvars nuus oor sy verkiesing tot hoofleier in die plek van die siek PW Botha was ‘n scoop soos elke joernalis van droom. Die Volksblad was toe nog ‘n middagblad. Geen ander middagblad in die land kon daardie middag by hom kers vashou nie.

P.W. Botha bedank skielik. F.W. klop Barend du Plessis, Chris Heunis en Pik Botha om die leierskap. Dit was die sleutelelemente van die berig. FW nuwe leier, was die banier. Wen teen Barend met 69 -61 was die tweede opskrif.

Alf Ries, gesoute politieke beriggewer van Die Burger en oud-Volksblad-man, het voor 11:00 die eerste keer opgewonde gebel om te waarsku dat iets groots klaarblyklik aan die gebeur is. Soos so dikwels in sy uitsonderlike loopbaan was Ries op presies die regte tyd op presies die regte plek. (‘n Ander Ries-scoop vir Die Volksblad was Samora Machel se dood in ‘n vliegtuigongeluk in 1986. Geen ander middagkoerant het dieselfde dag nog daardie berig gehad nie.)

Die oggend van die historiese NP-koukus het Ries ‘n vreemde aktiwiteit bespeur, wat sy sensors geaktiveer het. Hy het dadelik gedink aan Die Volksblad, wat toe nog ‘n middagblad was. Geen ander joernalis het in daardie stadium eens snuf in die neus gehad van die drama wat hom in die koukus afspeel nie.

Teen 12:20 het Die Volksblad se Francois Lötter (later van Die Burger) gebel met die nuus dat die koukus vir ‘n nuwe hoofleier stem. Om 12:40 was daar weer ‘n oproep van hom om te sệ: Die nuwe leier is F.W. de Klerk.

Die redaksionele wiele het volstoom begin draai. Foto’s is geselekteer vir ‘n fotoblad en ‘n lewenskets is vinnig afgerond. In die subkantoor is koorsagtig bladsye verander — en die produk was ‘n treffer, met ‘n Alf Ries-hoofberig wat lesers soos ‘n elektriese stroom regop laat sit het.

Daardie middag bel Piet Steyn, LV vir Winburg, sy vriend prof. Kallie Strydom in Bloemfontein oor die groot dinge wat die oggend gebeur het. Hy kon op sy rug val toe Strydom hom meedeel: “Ek het dit nou net alles in Die Volksblad gelees.”

Die storie eindig ongelukkig op ‘n pynlike noot. ‘n Kis KWV-Roodeberg bestem vir kollega Alf het op die Bloemfonteinse lughawe (toe nog JBM Hertzog) van die waentjie getuimel. Net ses bottels van die dankie-geskenk het heel in die Kaap aangekom!

Foto: Buiteblad van my loopbaanboek “Kroniek van ‘n Koerantman” (Tarlehoet. 1998). ‘n Dowwe relief van daardie gedenkwaardige voorblad is vir die ontwerp ingespan.

  1. Later deel ek nog FW de Klerk-herinneringe.

5 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page