Wie het raakgesien die naamlyn by drie vergeelde Huisgenoot-artikels oor spoke wat Saterdag in “By” as illustrasie gebruik is by Johannes de Villiers se artikel oor die donker dinge onder Afrikaners in die 1800’s is dieselfde as die naam van ons eerste Staatspresident van die RSA?
Einste, C.R. Swart, die Huisgenoot-bydraer, en Charles Robberts Swart, latere president van Suid-Afrika, is een en dieselfde mens.
Min mense weet dit, maar Swart, wat Minister van Justisie was in Malan en Verwoerd se Kabinette, was in sy jong dae joernalis (ook cowboy in die VSA, maar dis ‘n ander storie).
Trouens, ek en Swart was verlangs “kollegas” – hy was in 1936 twee maande lank redakteur van Die Volksblad. Ons deel verder die reputasie van “vurigheid”. Sy “vurigheid” op een bepaalde dag, 16 Januarie 1936, kon ek op my vurigste egter nooit ewenaar nie.
Swart was daardie dag besig met ‘n heftige aanslag op die tikmasjien toe die Volksbladgebou in die latere Voortrekkerstraat (en nog later Nelson Mandelarylaan) skielik begin skud.
Swart het self vertel: “Op ‘n warm somermiddag sit ek en hoofartikel skrywe. Dit was blykbaar ‘n vurige en aggressiewe een, want meteens begin die vensters te ruk en te rammel terwyl die gebou waggel en bewe. Na ‘n vyftal sekondes besef ek eers ‘n vreemde gedoente was aan die gang.
“Toe ek by die kantoordeur uitstorm, sien ek net meisiekinders die gang afhardloop, en al wat gewerk (of gedut) het, storm die gebou uit na die grondverdieping die straat in.
“Dit was ‘n aardbewing wat ons so skrikgemaak het. Dit het mooipraat gekos om almal weer terug op kantoor te kry.”
Die storie van die vurigste hoofartikel in Die Volksblad se geskiedenis is opgeteken in my eerste boekie, “Scoops en skandes” (Tafelberg, 1993).
Swart se kort redakteursloopbaan het nie uit die lug geval nie. Hy het van 1927/28 tot 1933 al ’n weeklikse politieke rubriek onder die skuilnaam “Rondloper” vir diékoerant behartig. As jong politikus was hy vir ‘n rubriek, “Parlementere Praatjies”, verantwoordelik en het ook Saterdag-hoofartikels geskryf.
Sy plaas buite Brandfort se naam was “De Aap”. Dat die goedige “Oom Blackie” ‘n aap was, kon jy egter nie van hierdie veelsydige man sê nie
* Die joernalis Johannes de Villiers het ‘n boek oor spoke, spiritiste, sektes en goëlgeeste geskryf – wonder of dit hom vir die titel “spookskrywer” laat kwalifiseer!
Comments