top of page
  • Uitmelkbos

VRYBEURTE IN INRY


Ben en Hannetjie Smith saam met my seun, Johan, op Melkbos se stoep.

Uit die Kimberley-fase, die tweede van tien, het my neef Ben Smith van Randburg Kaap toe gekom vir my 70ste verjaardag. Vir Ben ken ek nou 65 jaar.

Ek ken net ‘n niggie, Elsa, langer. Ek en Elsa (Maritz) het op buurplase in die distrik Babanango ons eerste jare deurgebring. Ons ma’s, Dinah en Baby (nooiens Visser van Paardeberg), was susters, en ons pa’s, Marthinus en Seun, halfbroers. Soos dinge maar gebeur, het ons paaie mettertyd geskei geraak.

Ek en Ben het as seuns in die jare 40 vlieërs (“swallows” en “diamonds”) gevlieg op die mynhope agter Transvaalweg. Die twee neefs het deur die jare vele ander dinge saam gedoen, o.m. een aand, ongeveer 1959 rond, ‘n pragtige kloostermeisie gedeel in ‘n inryteater in Pretoria.

Ons het vrybeurte gemaak (darem nie blybeurte nie): hy voor pouse en ek daarna.

Ek het my verbeel die meisie – Heather was haar naam – was ietwat traag vir die ruil. Ben was nie onwillig nie. Ek was vuur en vlam.

Ben is vyf jaar ouer as ek en onthou sekere dinge uit my prille jeug beter as ekself. Hy vertel byvoorbeeld hoe jaloers hy was op ‘n selfvervaardigde hout-raamwerkie wat vir my as sitplek gedien het voor op my pa se fiets.

Ons sien mekaar redelik gereeld. Hy en sy vrou, Hannetjie – ‘n tuinmaker soos min wie se stukkie Eden in Kelland, Randburg, al op TV en in hoeveel tydskrifte was, het van Donderdag 6 Januarie af ‘n week lank by ons gekuier. Toe ek hulle Woensdag 12 Januarie op die lughawe gaan aflaai, was ons nog nie uitgesels nie.

Volgende: Volkies, Potchefstroom

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Commenti


bottom of page