top of page
  • Uitmelkbos

VROU OM TE ONTHOU


Zoveel malen is men man Als men talen spreken kan.

Ter ere van wyle Esbe Krynauw van Melkbos wil ek hierdie bekende woorde van Karel V, keiser van die heilige Romeinse Ryk meer as 500 jaar gelede, vandag effens ombuig:

Soveel male is mens vrou As hoeveel mense jou sal onthou.

Wat beteken dit? Eenvoudig dat jou stoffasie bepaal word deur die hoeveelheid lewens wat jy konstruktief aangeraak het. Dat Esbe ‘n grondige impak op baie mense gehad het, kan niemand ontken nie – mense oor die hele spektrum: jonk en oud.

Sy was onderwysmens in murg en been, o.m. as grondlegger en eerste hoof van die Primêre Skool Tableview. As pedagoog het sy gesonde waardes vir generasies ontvanklike kinders ingeprent. Dit behels basiese Christen-deugde soos geloof, hoop en liefde, maar ook ordentlikheid, dissipline en respek: vir mekaar, vir die natuur in al sy verskeidenheid, en vir die eie.

Haar eie dors na kennis en inligting het sy entoesiasties aan die kinders oorgedra. Ek kan my voorstel hoe hulle gretig aan die voete van die wyse Gamaliël gesit het.

Tot aan die einde van dae was Esbe die voorbeeld van ‘n gesonde waardestelsel. Sy was geen selektiewe respekbetoner nie. Almal kon te alle tye op hoflikheid reken. Hoeveel kinders vergeet nie eenvoudig van oorlede ouers nie? Esbe en haar manhet nie vergeet nie. Al in gevorderde jare is hulle nog gereeld met die Honda vol vars blomme al die pad na Beaufort-Wes om dit op hul grafte te gaan sit.

Esbe se intense belangstelling vir die wêreld om haar het tot aan die einde springlewendig gebly. Haar koerant het sy elke dag van van hoek tot kant verslind. Sy is gereeld met stapels boeke onder die arm by die biblioteek weg. Hoe ironies dat die laaste stapeltjie ongelees langs haar hospitaalbed moes bly lê ….

.

As burgemeeestersvrou van Milnerton was sy ‘n rots aan haar burgemeesterman, Danie, se sy. Sy het waardigheid, uitgestraal; ook bekwaamheid, innemendheid en sjarme. Haar deernis vir oumense het toe al ‘n fokuspunt geword. By haar bugemeesterlike onthale was die bejaardes van die gemeenskap meesal die eregaste. Daardie goue hart vir oumense het sy behou deur bv. gereeld met ‘n pakkie lekkers by een op te daag.

Vir my en Tokkie se eie Ouma Marietjie in haar “koshuis” hier op Melkbos, soos sy Seepark genoem het, was Vrydae Esbe-dag – altyd ‘n hoogtepunt waarna sy reikhalsend uitgesien het, en wat altyd ‘n pakkie lekkers opgelewer het.

In haar vriendekring was sy beroemd/berug – afhangende van persoonlike voorkeur – weens haar legendariese liefde vir katte. Haar reputasie vir die onoortreflike bereiding van boontjiesop het wyd gestrek. Sy is geag as ‘n omgeemens, wat met navrae, gelukwensings en bemoedigende woorde innigheid uitgestraal het. Op spesiale dae het sy graag met ‘n suurlemoentert opgedaag – ‘n saligheid op die verhemelte wat, volgens haar, die soet en die suur van die lewe gesimboliseer het.

Waarskynlik haar sterkste lewensmissie was ‘n rol wat sy met passie en toewyding vervul het: dié van eggenote en moeder. Vir Danie senior, Danita in Amerika, Danie en Marina en Daniel in Thaiand was sy altyd ‘n vaste anker, ondanks watter uitdagings ook al.

Die liefde vir, en die kennis van God het Danita en Danie aan moedersknie, ewe seer as aan vadersknie, geleer. Ook haar honger na boeke, gesteldheid op haar eie taal, Afrikaans, en liefde vir diere is aan hulle oorgedra.

Danie se eiesoortige humor – onder meer al die spesiale meisies, verloofdes en dies meer wat die galante heer en hand-kusser kammakastig op sy kerfstok sou hê – moes by geleentheid seker maar hare op die tande verg.

Selfs as hy ‘n verdwaasde winkelklerk sou meedeel dat sy vrou hom mottegif vir ”vitmaninepilletjies”, sou voer, het Esbe dit gelate, filosofies en met ‘n skewe glimlag aanvaar. Meermale het sy haar platjieman pittig met ‘n eie stukkie droë humor getroef – dan het ek altyd gedink: “Skote, Esbe!”

Danie en Esbe is op Saterdag 9 Junie 1956 getroud na ‘n skoolromanse wat floreer het. Hulle het in Junie 2006 goue bruilof gevier, en was op pad na 55 jaar se huwelikslewe in ‘n verhouding wat vir hul vriende al hoe meer soos ‘n Siamese verbintenis gelyk het.

Hulle was klaarblyklik op hul gelukkigste in mekaar se geselskap en hulle was kinderlik opgewonde as hulle die kans kry om saam na uitverkore bestemmings, soos die Tsitsikamma-park, weg te glip. Boshut R26, met sy weergalose see-uitsig, was vir hulle soos heilige grond.

Oor Tini Vorster, eggenote van ‘n vorige Eerste Minister en Staatspresident, het ek elders die volgende woorde gebruik:

“In haar was ‘n fierheid, blymoedigheid en stille krag wat ek nie sal vergeet nie. Daar was ook die teerheid , liefde en lojaliteit van ‘n sorgsame eggenote. So ‘n mengsel van aristokratiese waardigheid en vroulike sagtheid kry ‘n mens nie elke dag nie. Ek bewonder dit.”

Ek sal daardie eienskappe bly bewonder – baie bepaald ook in die lewe van Esbe Krynauw.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page