top of page
  • Uitmelkbos

VRIENDSKAP VAN 40 JAAR


Rina, Wena en Pieter op Tarlehoet in Sabiepark se stoep in die winter van 2011.

Die viering van ‘n vriendskap van veertig jaar van Herman le Roux en Pieter en Wena de Kock was gereël vir aanstaande week by Sunday City. Toe kry Pieter in Australië ‘n hartaanval, sukkel siek-siek terug en beland dadelik in die hospitaal vir ‘n drieledige hartomleiding.

Van dié teëspoed het ek ‘n week gelede hier vertel. Daardie reünie lyk in die weegskaal, het ek gerapporteer maar hoopvol bygevoeg: Pieter is ‘n taai kêrel wat hom nie maklik laat onderkry nie. Gistermiddag in die Zuid-Afrikaansche Hospitaal in Pretoria het Skoppensboer sy kaart gespeel. Soos Eugene N. Marais gedig het: Want swart en droef/die hoogste troef/oor al wat roer/ is Skoppensboer.

Pieter se bloeddruk het van gisteroggend af gevaarlik gekantel. Sy vriende het angstig gewag terwyl dit die kritieke vlak nader. Niks kon die onheilspellende grafiek omkeer nie en Pieter is rustig oorlede. Die oggend het hy en sy advokateseun, Hennie, nog oor sy hare gekorswel.

Die immer-opgeruimde mens propvol stories – soms heel stoute stories! – was van die stimulerendste, opbeurendste geselskap wat jy kon kry. Nou’s daardie kenmerkende vertelstyl en gepaardgaande Pieter de Kock-laggie vir altyd stil.

Wat ‘n vreugdefees sou wees, het ontaard in hartseer en verlange na die groot tye wat daar was. Oor daardie groot tye het Herman ‘n spesiale lang geleentheidsvers geskryf, met allerlei verwysings na situasies en ervarings wat net die De Kocks en die Le Roux’s sou verstaan, maar wat insiggewend is oor die besonderse band tussen daardie vier boesemvriende.

Ek haal, as finale groet uit Melkbos aan die ou super- vriend, strofes uit Herman se versie aan:

Veertig jaar is ‘n moerse lang tyd,

Maar ons vriendskap met die De Kocks strek baie wyd.

Daarom geniet ons nou weer hul samesyn

En vier dit met ‘n paar glasies wyn.

Maar ons moet nog wag vir ernstiger kuier.

Om voor 6 nm te begin, sal Wena weier.

Ons vier het die wêreld vol gereis.

Noem maar op: Las Vegas, Londen, Parys…

In 1972 word ‘n ontmoeting by die Roberta-hotel gereël.

Daar begin ‘n jarelange vriendskap van baie pret en canasta speel.

Die 1972-toer was die eerste van vier oorsee,

wat ons elke keer groot plesier gee.

Daar was ‘n bustoer deur die Nevada-woestyn

En in Duitsland ‘n bootreis op die Ryn.

In Spanje besoek ons ook Toledo

en in Amerika Disney World en Orlando.

Ons besoek woelige plekke baie ver,

soos in Athene die Omnia-plein en Constitution Square.

In Inn on the Harbor had ons langs die hawe ‘n balkon,

waar ons na die bote kyk in die laatmiddag-son.

Pieter het gesê hy hou so baie van Newport,

dat hy op dié balkon sal sit tot dit donker word.

Ons rit tussen Ford Lauderdale en Kissimmee sal ons nooit vergeet,

Want Wena gee ons al ons hel omdat sy so laat moet eet!

By Earl’s Court in Londen kan Pieter en Wena nie betyds die moltrein haal;

ek en Wena snel voort na Bayswater waar sy ‘n appel eet vir middagmaal.

In Stockholm het Pieter ons kosbare tyd gemors,

toe hy verlangend bly staan by ‘n winkel se salami en wors.

In die canasta-spel is die vroue meestal voor,

Maar ek en Pieter glo ons het nie in die Swartwoud verloor.

Net een keer het ons bietjie stry gekry

– toe ons in Venesië wonder wie moet die badkamer kry.

In Londen gaan kyk ons na The King and I

– die aand toe Pieter ‘n stuk wors van sy bord laat waai.

Blitsvinnig raap hy dit op van die grond.

“Dis 2 ‘pence’ werd in die pond!”

Ná herhaalde mislukte pogings om op die tennisbaan af te slaan,

Speel ek en De Kockie die vroue van die baan.

Pieter speel met die TV se afstandbeheer by Ngwenya Lodge,

En daar sien ons toevallig hoe ‘n vliegtuig teen Twin Towers bots.

Kom, ons drink nog ‘n glasie wyn,

Op Koedoe-apteek se Beta-pyn!

(Laasgenoemde is glo ‘n verwysing na T-hemde wat Pieter en Wena op een reis knaend gedra het).

Naskrif: Die beloofde blog oor John Bobbitt se “penis”-penarie is op pad.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page