top of page
  • Uitmelkbos

VRIENDE VIR EWIG VIR EWIG VEREWIG


In ‘n Suid-Afrikaanse galery van beroemde honde sou Jock of the Bushveld ‘n ereplek beklee. Dié onverskrokke baster-staffie (kleinste van ‘n werpsel wat in 1885 in die Laeveld geteel is) was by uitstek ‘n jaghond. Dapper en meedoënloos. Hy het vir niks teruggedeins nie, en het instinktief geweet hoe om ‘n gewonde bok plat te trek of hoe om ‘n leeu besig te hou totdat die doodskoot knal.

Van Jock staan ‘n beeld in ‘n tuin op daardie mooi grensdorp in Mpumalanga, Barberton, ook beelde en kentekens oral op die platorand van die oostelike Drakensberg, en in die Nasionale Kruger-wildtuin, waar een van die nuwer kampe na Jock heet. Die boek Jock of the Bushveld deur Percy (later sir Percy) Fitzpatrick word nie om dowe neute nie as een van die klassieke Suid-Afrikaanse werke gereken. Die avontuurlike lewe van Jock is ook twee keer verfilm.

Pole het ook ‘n Jock (in Pools: Dzok) wat met ‘n monumentjie verewig is. Dzok van Krakau het mense aangegryp met sy onwrikbare trou aan sy baas vir wie hy ‘n jaar lank in wind en weer pal bly wag het op die plek waar dié rondom 1990 deur ‘n hartaanval neergevel is. Die beeld (op die foto) van die hond (van onsekere ras), omring deur oop mensehande, is werklik treffend en lok die toeriste in strome na sy staanplek langs ‘n besige straat aan die buitekant van die ou stad se mure.

Die inskripsie lui eenvoudig:

Dzok, die hond

Die mens se getrouste viervoetige vriend ooit versinnebeeld ‘n hond se grenslose toewyding aan sy meester.

Karel de Pauw het uit Londen laat weet van Dzok se beeld na aanleiding van die geselsie oor honde (Honde met harte vir honde) ‘n rukkie gelede. Hy skryf sy vrou is n Pool en het aan die Universiteit van Krakau studeer. Op ‘n besoek aan die ou stad enkele jare gelede het hulle op die monument ter ere van Dzock afgekom. Die naam Dzok was vir sy vrou vreemd en het hom laat wonder of dit nie van ons eie Jock afgelei is nie.

Helaas kon niemand in Pole tot dusver lig werp nie en hy kon nog nie uitvind of Jock of the Bushveld ooit in Pools vertaal is. Op die internet kry ek toe ook iets van Dzok (met die naam Jock in hakies), wat die indruk wek dat die vermoede van die een of ander konnotasie tussen ons Jock van die Bosveld en Dzok van Krakau wyer bestaan as net by Karel.

Al wat opgeteken is, is dat vele mense hulle na sy baas se dood oor die treurende Dzok wou ontferm. Hy wou niks van hulle attensies weet nie. Net die woord Dzok het enige reaksie uitgelok. Sal dit nie lekker wees as ‘n leser hiervan dalk weet hoe Dzok sy naam gekry het nie?

Nog ‘n kopkrapper: hoeveel monumente ter ere van honde bestaan oor die wêreld? Ek sal liewer nie probeer raai nie. Een sal egter dadelik by Kapenaars opkom.

‘n Onvergeetlike gelukbringer van die Vloot in die jare veertig tuur naamlik nou al hondegeslagte lank oor die water naby die hawe van Simonstad – in brons. Hy was die Deense hond Just Nuisance; ‘n kameraad, ‘n metgesel, selfs ‘n beskermengel van matrose van die Britse vloot in die Tweede Wêreldoorlog.

‘n Hond wat met ewe veel liefde onthou word, is Greyfriars Bobby van Skotland, ‘n Skotse terriër vir wie ‘n standbeeld in die hoofstad Edinburgh opgerig is.

Bobby se roem begin by ‘n wonderlike vriendskap tussen hom en ‘n skaapwagter, Jock (weer ‘n Jock!) K, saam met wie hy elke Woensdag mark toe is, en daarna vir ‘n middagete by Traill’s Dining Rooms in Greyfriars Place daar naby.

Een dag in 1858 word Jock in die pad gesteek. Bobby gaan soek hom en kry hom in ‘n vuil stegie in Edinburgh. Hulle oornag saam op ‘n hopie strooi in die kelder van ‘n derderangse losieshuis – maar die volgende oggend staan Jock nie op nie. Hy is dood.

Drie dae na die begrafnis, presies eenuur die middag soos altyd, was die eienaar, John Traill, verbaas toe Bobby instrompel op soek na kos. Hy het hom ‘n been gegee. Nege jaar lank het dit so aangegaan. Toe word Traill in die tronk gestop omdat hy ‘n hond sonder lisensie skuiling gebied het. Die volgende dag was die hele storie in die koerant die Scotsman onder die opskrif: Strange Story of Dog.

Een wat die berig gelees het, was die burgemeester, William Chambers. Hy neem toe self vir Bobby aan, betaal sy lisensie en gee hom die reg van vrye toegang tot die stad.

Tot Januarie 1872 verdwyn Bobby van die toneel. Toe verskyn in die Scotsman ‘n doodsberig. John Traill het hom laat begrawe in ‘n blomtuin naby die Greyfriars-kerk.

‘n Standbeeld is daarna opgerig op die hoek van Candlemaker Row en die George VI-brug. Die graf van sy skaapswagtervriend, Jock, het ook ‘n grafsteen gekry, geskenk deur Amerikaanse bewonderaars. En by Greyfriars Place 6, waar Traill se eetplek was, is ‘n bronsplaket: Greyfriars Bobby het hier geëet 1858 – 1872.” (HvD)

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page