Jy is my vriend, selfs meer as my broer. Jy is my beskerming, wanneer die winterwind koud waai. Jy is die een wat eerste deur riviere swem om seker te maak dat daar geen krokodille skuil nie ………..Jy is die een wat sal sterf om my te beskerm. Vir jou is liefde alles en alles is liefde.
So word die hond besing deur die skrywer Credo Mutwa in Silwane – The Animal (Tales and Fables of Africa). Ek haal Mutwa se gevleuelde woorde aan in my hondeboek, ‘n Vriend vir Altyd – Honderde hondestories (Human & Rousseau, 2000).
Die tema van die boek is presies wat Mutwa beskryf. Die helde is ‘n uitgebreide galery natneus-nuusmakers. Party se name sal tot in die verre toekoms in ere gehou word. Die titel kom uit ‘n aanhaling van Rudyard Kipling: Hy sal ons vriend wees vir altyd, en altyd en altyd. Het dit een aand by Willie en Irna Hartzenberg op Hermanus in ‘n almanak raakgelees juis terwyl ek op soek was na ‘n titel vir die boek.
In een hoofstuk, ‘n Dawid vir Jonatan, word die rolle omgeruil. Die mens is daarin die held weens die opofferende liefde wat hy eweneens vir die hond koester. Soos ‘n hond vir sy meester alles sal opoffer, so dryf die mens se liefde vir ‘n getroue hond hom immers ook tot ongewone dade. Soos kapt. John Seeley nou in Kimberley met sy redding van Kaptein uit die Groot Gat, waarin die stomme hond dae reddeloos rondgeswem het. Dit is ‘n ‘n storie van ‘n hondevriend se heldedaad wat in ‘n Vriend Merk II baie bepaald prominent ‘n plek sou vind.
In Vriend Merk I is een voorbeeld van die mens se heldedade vir honde waar dassietonnels met laaigrawe oopgekloof word om ‘n verdwaalde hond te red. In ‘n ander word ‘n noodoperasie op ‘n hond met ‘n biltongmes uitgevoer. ‘n Man voer in ‘n derde in ‘n modderige plaasdam ‘n stryd op lewe en dood met ‘n krokodil wat sy hond gegryp het.
Miskien minder dramaties, maar nie minder aangrypend nie, is die liefdevolle versorging van ‘n jong diabeet van haar hondjie wat dieselfde siekte opdoen, of die liefde van ‘n arm vrou wat liewer self honger sal gaan slap voordat sy haar honde afskeep.
Die redding van Kaptein was voorbladnuus, nie net in Suid-Afrika nie. Al die ander stories hierbo kom ook uit koerante. Eersteklas joernaliste weet goed hoe belangrik vir hul sogenaamde “mix” stories is wat nie siddering en gebelgdheid nie, maar ‘n warme gevoel van weldadigheid (sonder die ge-) om die hart bring.
Hondestories staan naby aan heel voor in daardie ry.
Comments