top of page
Uitmelkbos

VRIEND VAN AFRIKAANS


Ambassadeur Bill Swing in geselskap van regter Theunie Steyn en administrateur Louis Botha. In ons besoekersboek het William Lacy Swing op 3 Januarie 1991 – ‘n hele 25 jaar gelede – die volgende in pront Afrikaans geskryf: “Veels geluk met jou verjaardag. Mag daar nog vele wees.” Niks merkwaardig daaraan nie, lyk dit. Totdat jy byvoeg: Hy was die Amerikaanse ambassadeur.

William Swing, of Bill Swing, soos ek hom geken het, is die lewende bewys van waar ‘n wil is, is ‘n weg. Hy was twee maande in die land toe hy met vertroue kon opstaan en kortliks iets van betekenis in dié vreemde taal kwytraak. Selfs die “g’s” had hy taamlik goed onder die knie.

Bill was ‘n ware vriend van Afrikaans. Sy filosofie was dat hy respek wil betoon aan die sterk Afrikaanse komponent in die land (en daardie tyd natuurlik in die Regering), maar ook dat hy nie onbegrypend en met ‘n mond vol tande in Afrikaanse geselskap wil beland nie. Hy het eenvoudig vasgebyt, Afrikaans-klas geloop en nie gehuiwer om oefen-oefen in die openbaar sy weg te vind nie.

Hy het in Bloemfontein opgedaag met ‘n pikante Afrikaanse toesprakie in sy binnesak vir die wis en die onwis. Ek het later eers daarvan gehoor en sy notas aangevra. Wou daardie notas vir hierdie blog uitkrap – dit is iewers tussen my dokumente – maar Tokkie het gewaarsku: “”O Gonna, dit sal klink of jakkals sy eie stert prys.” Glo my dus maar – sy sy Afrikaans was “pikant”.

Die ambasssadeur is nooit aan die woord gestel nie. Daar sou die aand geen toesprake wees nie. Die sowat 70 gaste was versprei in die huis, op die lang stoep – van een hoek tot die ander – langs die swembad en op ons motorpad. Waarmee nie rekening gehou is nie, is dat regter M.T. (Theunie) Steyn ook teenwoordig was. Hy kon praat (lank praat ook) en het hom nie twee keer laat nooi nie.


Van die gaste by my 50ste se name in die boek – onder andere Bill Swing en Theunie Steyn.

Toe ek weer hoor, toe’s dit heildronktyd. Die liewe Oom Theunie, wat altyd in die besoekersboek sy adres aangegee het as Onze Rust (die Steyn-familieplaas), het op eie inisiatief die pligpleginkie behartig. Wonder of ‘n derde van die gaste ‘n woord van sy rede gehoor het. Buiten in sy onmiddellike omgewing is lustig voortgekuier terwyl hy praat … en praat.

Maar Bill: ons paaie het gekruis toe ek in 1977 in Amerika was. Hy was ‘n Kennedy Fellow aan Harvard en ek ‘n Nieman Fellow. Toe ek sy naam in die koerante sien as nuwe ambassadeur het ‘n pennie geval. Ek het spreekwoordelik die ambassade se voordeurklokkie gaan lui. “Goeie more, Hennie,” het hy my gegroet, nog skeef en krom maar sonder skroom.

Hy was in Suid-Afrika van 1989 tot 1992. In daardie tyd is hy met die oulike Chinese buksie Yuen getroud – op ‘n wonderskone herfsoggend in die tuine van die ambassade in Bishopscourt – en ek en Tokkie was gelukkig genoeg om genooi te word.

Nadat Bill en Yuen uit Suid-Afrika weg is, het Yuen ons lank met ketting-briefies op die hoogte gehou. Die briefies het later drupsgewyse begin kom en toe opgedroog. Maar ek het Bill nog van tyd tot tyd op TV gesien – net so ‘n afgeronde heer soos daardie oggend voor die buitelug-kansel in Bishopscourt. Al bars die bomme (soos in Tahiti) kon jy hom deur ‘n ring trek, die rustigheid vanself en ‘n formuleerder van formaat.

Die nostalgie sit op loop as ek so deur die besoekersboek blaai. Daardie aand was dit buurman Johann Strauss se taak om die boek rond te neem. Dit was immers hy wat dit vir Kersfees 1987 vir ons present gegee het. Johann het die verantwoordelikheid met groot sorg uitgevoer. Elke liewe gas het geteken. Drie bladsye vol.

Bill se voorganger, Ed Perkins, ‘n groot Afro-Amerikaner, en sy vrou, ook ‘n Chinese buksie wie se naam my skandelik ontgaan het, was ‘n aand in 1987 ons etegaste in Van Schoorstraat. Dit was voordat ek en Tokkie die besitters van ons besoekersboek geword het. Niks is derhalwe opgeteken nie.

Van daardie aand het ek veral twee herinneringe. Die eerste is hoe seer die smaak van ‘n KWV-muskadel die amabassadeur geval het. Hy is met my laaste bottel daar weg. Verder onthou ek hoe ontsteld ‘n LV was dat hy nie die aand genooi was nie. Hy was betrokke by buitelandse sake en het gemeen protokol is by die venster uitgegooi. Onvergeeflik. Die antwoord was maklik: ‘n koerantman is genadiglik geen slaaf van protokol nie. Hy nooi wie hy wil.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page