Ex Africa semper aliquid novi … Inderdaad nuut en onheilspellend kreatief is om vrees vir die voorvadergeeste deel te maak van die partypolitiek in ‘n moderne “demokratiese” bestel.
Geluk, Jacob Zuma, met jou oorspronklikheid en vernuftige intimidasie. Derduisende Suid-Afrikaners klappertand seker van vrees oor die nare siektes wat hulle kan oorval as hulle sou durf om dislojaal aan die ANC te raak.
En dis geen grap nie. Vir baie Suid-Afrikaners is respek vir voorvadergeeste immers ’n belangrike faset van geloofslewe. Om die voorvadergeeste kwaad te maak is eenvoudig ondenkbaar.
Waarskynlik ook vreemd vir mense wat nie so goed weet hoe die vurk in die hef steek in ons liewe vaderlandjie nie, is die deurmekaarklitsery van sulke vreesaanjaery met die voorvaders en Christelike gebed.
Een dag gaan jy op jou knieë en smeek die Here se seën op die Wêreldbekertoernooi af. Die volgende dag uiters jy sulke duistere dreigemente. Hoe dan?
Maar in Afrika leef die goed mos maar hand aan hand. Tokkie het gaan grawe en vir my ‘n wonderlike, insiggewende vers van Henk Malan van Potchefstroom uitgehaal. Die naam is Drie Gode, dit is na aanleiding van Lukas 17:6 (oor geloof so groot soos ‘n mosterdsaadjie) en word opgedra aan Henk se huishulp:
Met skelrooi bloes en kraakwit kraag Doen sy Sondae haar kruistoggang – Waar Jesus aan die kruishout hang – Om hom te loof met kreungesang.
Vanaand sal sy voor haar ysterbed – Drie-baksteen bo die beesmisvloer – Prewelend, beangs iemand vra Dat die Tokkelos haar nie moet pla. More sal sy met gesuiwerde siel Op die kombuisvloer seer-knie kniel Om so ‘n ander god te dien, Wat haar maand’liks van haar loon voorsien.
Godvresend sal sy deur die lewe gaan – Al het sy die “drie-enig” God nie mooi verstaan.
Comments