Die veel bekroonde The Curious Incident of the Dog in the Night-Time is so ‘n boek. Dit het in 2003 verskyn uit die pen van die Britse skrywer Mark Haddon, en is met verskeie top-pryse beloon. Die vreemde titel is ‘n aanhaling van ‘n opmerking deur Sherlock Holmes, Arthur Conan Doyle se beroemde speurder-karakter, wat nogal hier, daar en oral in die boek opduik.
Weens die een en die ander het eers Tokkie en toe ek, op haar sterk aanbeveling, nou eers by “curious incident” uitgekom. Op die omslag is aanhalings uit resensies. Dit wemel van woorde soos “remarkable, exceptional, superb, brilliant, outstanding, stunning” en nog wat. Hiperbolies? Moenie glo nie, koop een, leen een, gaps een .. en maak jou klaar vir ‘n pakkende leeservaring!
Die storie word in die eerste persoon vertel deur ‘n 15-jarige seun met elemente van outisme, Christopher John Francis Boone. Simptone van die asperger-sindroom (onthou Daantjie Dinamiet van Noot-vir-Noot-faam) en savant-sindroom kom ook by Christopher voor. Hy is wiskundig briljant, maar sukkel om emosioneel en sosiaal sy plek te vind, met ritse fobies, vrese, steurnisse, weerspannighede en eienaardighede. Hy haat byvoorbeeld enige fisieke aanraking, pes alles wat bruin en geel is, en eet nie kosse wat op die bord aan mekaar geraak het nie.
Christopher ontdek in die eerste hoofstuk die karkas van bure se hond wat met ‘n tuinvurk uit die lewe gehelp is, en sit ‘n speurtog, a la Sherlock Holmes, op tou. Dit word ‘n missie wat in vele opsigte ontredderend is, en sy beskutte lewetjie aan flarde ruk, ook in gesinsverband. Jou hart krimp ineen vir die stomme, wêreldvreemde kind, en die ontnugterings op sy kronkelpad, maar kry darem ook kans om saam met hom te lag en te juig, byvoorbeeld oor sy verwerwing van matriek-wiskunde in die A-graad met ‘n A-simbool.
Sy avonture – soos om die eerste keer alleen (net met sy troetelrot, Toby) ‘n trein na die grote Londen te haal om na sy wegloop-ma te gaan soek, wat volgens ‘n witleuen van sy pa aan ‘n hartaanval beswyk het – teken hy op in ‘n eiesoortige “speur-roman”, wat ook ten diepste insiggewend is in sy soms verwronge denke. Dit is denke wat ook verstommend kan wees, soos wanneer hy ingewikkelde wiskundige formules as ontvlugtingsmaneuvers aanwend.
Haddon ontken dat hy ‘n kenner van outisme, die asperger-sindroom of die avant-sindroom is. Ek het egter nog nooit ‘n boek gelees waarin die skrywer so volkome in sy karakter se kop gekom het soos dié nie. Om dit te vermag, verrig hy ‘n kragtoer in die vertelkuns.
As ek nie iemand lus gemaak het om “curious incident” te lees nie, het hierdie blog klaaglik misluk. Jammer dan, mnr. Mark Haddon, en jammer, Christopher Booth, vir die abortiewe poging.
Comments