Die spitsvondige Piet Koornhof het in ‘n stadium oor sy bra wollerige sportbeleid verklaar: As ek ‘n grap maak, dink mense dis beleid; as ek beleid maak, dink hulle dis ‘n grap. Moenie nou dink omdat ek ligweg geskryf het oor my vriend wat in ‘n lyksak op ‘n Persiese mat ambulans toe gesleep is, is hierdie opvolg-aflewering as humoristies of vermaaklik bedoel nie.
Nee kragtie, ek is doodernstig. Die waarheid is eenvoudig dat argitekte selde in hul ontwerpe rekening hou met die gemaklike afvoering van dooies of beseerdes of siekes per draagbaar. Hulle skep hoekies, draaitjies, smal trappies, vlakke en wat nog wat die verwydering van die dramatis persona kan belemmer.
In Bloemfontein was ons huis ‘n dubbelverdieping met ‘n wenteltrap in die voorportaal slaapkamers toe. Gans onmoontlik om iemand in ‘n uitgestrekte posisie daar af te vervoer. Die opset het my lank bekommer. ‘n Mens is nie onnodig fatalisties nie, maar teenspoede gebeur wat jou soms afhanklik maak van ambulanse en dies meer.
Uiteindelik het ek ‘n pad uitgewerk en aan Tokkie gekommunikeer. Agter ons slaapkamer verby was buite ‘n gangerigheid wat uitloop op ‘n balkonnetjie met steil trappies na onder. Dit was die enigste lewensvatbare roete. Die alternatief sou ‘n hyskraan wees.
Die saamgestelde foto bo wys dat dit ook maar meet en pas en ratse voetwerk sou verg. Dardie trappies (links) is nie makliker begaanbaar as wat hulle op die foto lyk nie. Trouens, na kwaai kuiergeleenthede het ek hulle liewer vermy! Op daardie balkonnetjie waar Tokkie staan, half weggesteek agter die bloureën, sou die draers, hetsy ambulansmanne of van ‘n ander kader, eers moes linksom met die prostate Van Deventer ten einde die draagbaar te bestendig. Daarna sou dit meet en pas wees om met hul kosbare vrag veilig na benede te skuifel.
Dalk, het ek in ‘n stadium gewonder, sal hulle my bo hul skouers moet lig en so afdra, soos ‘n Indiese oorskot op pad na sy Laaste Vuur.
Toe Ouma ‘n slag moet hospitaal toe, kon my roete eksperimenteel beproef word. Alles het haarfyn uitgewerk. Die onnodigheid om Ouma as’t ware skouerhoog ambulans toe te dra, het my gemoedsrus verbeter. Met my – ofskoon groter van postuur – sou die aangewese bringers van redding uit nood klaarblyklik ook ‘n meer ortodokse plan kon maak.
Dit was nooit nodig nie, waaroor ek nooit ophou dankbaar was nie. Maar daarna is ek, soos hulle sê, deeglik gesensiteer. Ek beoordeel huisontwerpe sedertdien ook met die gerief van die potensiële draagbaar-geval as ‘n belangrike voorkeur. Baie huise voldoen, helaas, nie in hierdie vername opsig aan basiese vereistes nie.
Penguin Place se ontsnaproetes is self ook maar nie van die allergerieflikste nie. Die see was hier die deurslaggewende vir die transaksie. Om die draagbaar deur die slaapkamervenster te tel, lyk egter na ‘n opsie. Trouens, ek is een oggend deur daardie venster, pak klere en al, kerk toe terwyl bouers op die enigste ander roete obstrukies veroorsaak het met hul troffels, sement en hopies teëls.
Die les, liewe vriende, is om betyds te “recce” wat gaan in jou tuiste vir wat. As jy eers op die draagbaar lê, kan jy nie meer self opdragte gee en moniteer dat dinge reg loop wanneer jy moet voete eerste by die deur uit nie. Soos daardie oubaas wat vir sy kinders plegtig laat belowe het hulle sal hom versigtig dra graf toe.
“By daardie laaste driffie moet julle ekstra versigtig wees dat die kis nie kantel nie – nee, wag, daar moet ek liewer self oorvat!”
Comments