top of page
  • Uitmelkbos

VOeLS EN HUL VERE

Die skielike ontdekking dat iets aan jou klere skort, kan ontsenuend wees. ‘n Prysetiket het dalk weens ‘n oorsig op ‘n strategiese plek bly sit. Nou word aan almal uitgeblaker teen watter afgekibbelde prys jou klerekas by die Oosterse basaar vernuwe is.

Kollega Sarel Venter van Bloemfontein onthou ‘n insident toe Mike de Vries in so ‘n klerepenarie was, na aanleiding van my herinneringe aan ‘n heuglike Oostenrykse reis in my vorige blog.

In 1976, sy parlementjaar, was Sarel en Liesbeth een aand in Stellenbosch se stadsaal vir ‘n opvoering van Ipi Tombi. Hulle had komplimentêre kaartjies, verskaf deur ‘n buurman in Uniepark (Stellenbosch), prof. Roux de Villiers, destyds vise-rektor van Maties.

So sit hulle toe langs die rektorspaar, Mike De Vries en Renéé, ‘n dogter van die Pers se voormalige grootbaas Phil Weber.

Sarel vertel:

“Liesbeth sit toe regs van Mike, en in die skemerlig sien ek, as ek links kyk, kort-kort iets wit beweeg anderkant mý gade. Toe ek mooi kyk sien ek dit is ‘n prysetiket aan Mike se (nuwe) aandpak se linkermou, net bokant die hand.

“Toe ontdek Mike dit ook en begin dit diskreet lostorring. Hoogs geamuseer was ons aandag ‘n hele ruk lank nie juis by wat op die verhoog aangaan nie.

“Jare later, by ‘n dinee in Bloemfontein, dalk was dit met ‘n Volksblad-viering, sit ons toe saam met die De Vriese aan tafel. Hoe het ek nie gebrand om vir hom te vertel van daardie aand in Stellenbosch nie!”

Soos ek die gemoedelike Mike geken het, kon jy gerus maar vertel het, Sarel.

Soms kom ‘n element van moedswilligheid in so ‘n scenario na vore. Een van ons Melkbosse leraars, Francois Hanekom, kom op huisbesoek agter die lidmate betrag hom vraend. Riana het stilletjies agter op sy baadjie ‘n etiket geplak wat van ‘n nuwe kombuispot kom: “slow cooker”.

So iets gaan sit nie in ‘n man se klere nie!

Herinner my aan een van Rykie van Reenen se stories wat telkens in nuwe gedaante afgestof word vir ‘n nuwe generasie. Dis van die oubasie wat in oorlogstyd op Durban se strand kerjakker met ‘n baaipakkie uit ou meelsakkies vervaardig. Voorlangs, op ‘n ongemaklike plek, word verkondig: “self raising”. (Agter was ook ‘n dubbelsinnige mededeling – kan om die dood nie onthou wat nie.)

Van ‘n dame is nie so lank gelede nie op die nimlike Durbanse strand ‘n vreemde foto geneem en wyd op die internet versprei. Haar baaipak was agterstevoor. Die rug was nogal laag gesny. Twee wippende dubbel D’s ontbloot in die branders!

Gé Korsten het my vertel van ‘n verleentheid op die Aula se verhoog in Pretoria. Hy en Mimi Coertze was in ‘n hartstogtelike toneel in ‘n opera. Hy kom agter onse Mimi loer-loer so suidwaarts van sy naeltjie en maak sulke betekenisvolle kopknikkies. Toe hy afyk, sien hy net die wit pant van sy hemp soos ‘n vlag by sy oop rits uitsteek.

Hy het eenvoudig rug gegee en die rits opgepluk – tot groot vermaak van die gehoor. Geen regisseur kon Verdi se sonore musiek met so ‘n spontane plesiertjie afwissel nie!

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page