top of page

VOEL DIT – DIS HIER OOK!

Uitmelkbos

Verbeel ek my of skop die kameelperde vanjaar doel-gerigter? Hoe klink die geween van die hiënas dan of dit van die Mbombela-stadion (met sy indrukwekkende kameelperd-dakpilare) se kant aangesweef kom?

Natuurlik, dis Sokkerjaar 2010, en ons voel dit ook hier in die wyke van die Wildtuin. Wanneer ek wild, soek wapper ‘n vlaggie bo die Honda se dak. In die Skukuzawinkel word selfs vuvuzelas verkoop – maar gelukkig mag jy dit darem nie binne die Wildtuin blaas nie.

Die natuur (en die leeu se brul) oorheers darem nog.

Die lowerryke bos is ‘n verrassing – die resultaat van April-reëns soos min (223 mm teenoor 10 mm in 2009). Maar, o wee, net een ligte dwarreltjie, en die swembadjie lyk of ‘n storm dit getref het.

Ons sien heelwat wild rondom die huis en op pad piekniekplek toe. Een middag was kameelperde, sebras, rooibokkies en bobbejane aan’t saamkuier op een kol. Tuisgekom, het die sekelsterte in die agterste lapa op ons gewag. Gelukkig het ons rdie keer skadeliker attensies vrygespring.

By die eerte teken van bobbejane laat die tweeling, Jacob en Thomas (6) die ketties sing. Jacob se ammunisie is klippies. Thomas het vir daardie doel ‘n sak vol koedoe-bolletjies opgetel.

Gewilde besoekers by die huis is ‘n vlakvark-gesin van sewe. Jacob en Thomas het hul gunsteling “Waffie” gedoop – omdat die ander “lelik is” met hom. Die hiena veroorsaak, soos altyd, opwinding. Drie nagapies het by die nok ingetrek.

By die piekniekplek was ons beste waarneming ses olifante. ‘n Visarend het vlakvoor ons kom sit. Maar jy moet stip kyk – die riete staan hoog. In die Wildtuin sien ons ook heelwat olifante, maar nog geen katte in die eerste week.

Jacob en Thomas word oral herken en met die vreugde van weersiens verwelkom – ook deur die motorwag wat nog die dag onthou toe ‘n verwese Jacob in die verkeerde voertuig geklim het.

Danksy ‘n gestoei wat rof begin raak het, het Thomas, ongeskeduleerd, ‘n vyfde tand gewissel. Vir die “tande-veldmuis” was dit ‘n groot toets. Hy is per sms teen die gevare van die hiëna, die slang, die skerpioen en die donker gewaarsku. Moderne tegnologie!

Veldmuis het die toets geslaag, Die tandjie in die skoene is met n R20-noot vervang.

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page