Hoekom? Hoekom? Hoekom? Oupas en oumas moet bontstaan om al die raaisels op hul ontdekkingsreis van grootword vir die kleingoed te verklaar.
Oupa en Ouma Hennie en Tokkie – veral Ouma Tokkie – word weens hul vermeende status as ”kenners van die bos” meer as normaalweg met veldverwante vrae gepeper.
“Ouma, hoekom het die bobbejane ouma se eiers gesteel?”
“Ouma, hoekom is die nagapies bang vir die uil?”
“Ouma, hoekom is die kameelperd se poef so hard?”
Oorgenoeg egte “hoekoms” bestaan dat ‘n mens nie nog in jou lewe kunsmatige hoekoms nodig het nie.
“Ouma, hoekom sing die tannie dat kraanvoëls nie kan vlieg nie?”
“Ouma, hoekom kan ons nie ook in die Wildtuin rondstap nie?”
Die vraag oor die kraanvoëls is op grond van ‘n Carike Keuzenkamp-CD met die titel “Alle Voëls Het Vere”. Alle voëls het vere, sing die duursame Carike daarop, maar nie alle voëls kan vlieg nie. Die hoender, eend, kalkoen, pikkewyn en – verkeerdelik – ook die kraanvoël word dan deur haar onder die nie-vlieëndes geklassifiseer.
Die komplikasie is dat die seuntjies met hul eie oë gesien het hoe kraanvoëls in die koringlande tussen Welgemoed en Melkbos sierlik opstyg en land. Ouma het ook vir hulle ‘n pragfoto oor ‘n dubbelblad in die tydskrif “Weg” gewys met ‘n swerm kraanvoëls in vlug.
Hoekom jok die tannie dan so? Die versoeking is om taamlik kras te antwoord, maar uit billikheid sing die tannie ook maar net liedjies wat deur ander mense vir haar geskryf is. Die misleiding van kindertjies hoort dus voor ‘n ander deur.
Die ambisie om in die Wildtuin rond te stap, is geïnspireer deur ‘n boekie met die titel “Wikus gaan Wildtuin toe”. Wikus is ‘n beertjie. Hy en sy vriend Wim, die muis, stap alte heerlik in die Wildtuin rond en kuier by die minsame leeus, renoster, seekoeie, ens.
Op die oog af lyk dit heel onskuldig. Ouma moet egter mooi verduidelik hoekom Wikus en Wim mag gaan waar Jacob en Thomas nie mag gaan nie.
Wel, Wikus is natuurlik ‘n beertjie en Wim ‘n muis. Dit is hul paspoort tot die bos. Maar die kinders assosieer met die twee. Albei kan immers praat. Dit verg voetwerk om te verduidelik hoekom ‘n pratende beertjie salig op sy gemak met wilde diere geselsies kan aanknoop en kindertjies nie. Dan het hulle boonop ‘n maatjie Wim by die speelskool, wat sake nie makliker maak vir Ouma nie.
Die boekie, deur Human & Rousseau uitgegee, blyk, by nadere ondersoek, nie van Suid-Afrikaanse oorsprong te wees nie. Sy oorspronklike titel het ‘n Franse klank – of dalk Spaans. En wat weet Europeërs nou van gevaarlike diere en Wildtuinkulture ? Hulle klim sommer lag-lag uit hul motors om ‘n beter hoek vir ‘n foto te kry as roofdiere langs die pad lê en smul of olifante tussen die bome skuil. Dit het ek al meermale met my eie oë gesien.
So vreeslik ernstig is die saak seker nie, maar dat die sorgvrye Wikus en Wim in die Van Deventer-sfeer vrae laat ontstaan het, is seker. Hopelik het die verduideliking dat ‘n sagmoedige maanhaar op die geduldige bladsye van ‘n boek en ‘n potensiële verskeurder van allerlei ander diere, kindertjies en grootmense in die bos ‘n perd van ‘n ander kleur is, tog ingesink.
Uiteindelik knaag die vraag steeds: is die uitgewers van CD’s en boeke vir kinders altyd voldoende daarop bedag dat hulle klein kindergemoedjies kan verwar – veral met allerlei onlewensgetroue goed wat om minder duidelike redes uit die buiteland ingevoer is.
Comments