top of page
  • Uitmelkbos

VIVA, TUTU, VIVA!


tutu

 Oor Tutu se optrede by die Mandeladiens het ek, soos julle dalk weet, ‘n warm gevoel in my hart. Het my waardering dadelik op FB betuig. Het ook vir die drie Afrikaanse dagblaaie briefies gestuur oor die groot simboliese betekenis in my oë. Beeld het my brief gister geplaas. Die Burger en Volksblad vandag. Ek is dankbaar.

 Op die foto hierby bid hy in keurige Afrikaans om “geweldige seën” vir ons land.

 Vir diegene wat dit nie in een van die koerante raakgelees het nie en dalk belangstel, herhaal ek die brief hier:  

 Vasberade, vreesloos en versoenend. Só het ek en vele vriende die kragvertoning van emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu by die veelbewoë Madiba-gedenkdiens in bewondering en dankbaarheid beleef.

 Die 82-jarige Tutu het nie nee vir ‘n antwoord gevat nie. In sy kortstondige kamee het hy die rustelose skare in ‘n stonde tjoepstil gehad. Jy kon inderdaad “‘n speld hoor val”.  Hy het hulle eerbiedig laat opstaan.  Dit moet leeuemoed geverg het om in uitdagende omstandighede so onverbiddelik op dissipline en respek vir die ontslapene aan te dring.

Toe het hy kragtig gebid – in Engels, Xhosa en ook foutlose Afrikaans uit die hart. Hy het, soos dit hoort, die Here opreg en oorvloedig gedank vir ‘n samesnoerende simbool soos Madiba, en Suid-Afrikaners opgeroep om te gaan lewe soos dié ikoon sou begeer.

Die woord “versoening” het sedert die dood van Nelson Rohlihlahla Mandela oor vele lippe gerol.  Niemand het in hierdie dae in my oë aan die ontwykende ideaal van nasieskap en samehorigheid daadwerkliker soveel inhoud gegee soos die immergroen “Arch” nie.    

 Deur sy klinkende daad het hy heelwat van die voorafgaande onwaardige wangedrag ongedaan gemaak.  Maar meer nog:  Vir Afrikaansprekendes had hy die uitreik-boodskap: “Julle en julle taal hoort hier, ook op hierdie podium. Julle is ook volledig ingebind in die Madiba-filosofie.”

 Hy het daardie insig nie gefluister nie, maar met ‘n fiere stem so hard en duidelik beklemtoon dat almal wat ore het, dit moes hoor.

 Viva, Desmond Tutu, viva!

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page