top of page
  • Uitmelkbos

Viva Thys Human, Viva!


Rapport loop die groot polemiek oor die nuwe “Groot Verseboek” met omtrent twee maande mis – jammer, want Thys Human se bespreking in vandag se uitgawe van dié Sondagkoerant is die stimulerendste wat nog oor die GV verskyn het.

My dogters verseker my dat Human, Willie Burger en Andries Visagie die betroubaarste kritici van die huidige geslag is. Wat dit ookal alles mag behels. Dat Rapport Human aangekeer het vir die resensie, en nie ‘n digter nie, is iets waarvoor ‘n mens nie genoeg waardering kan hê nie.

Human het ‘n slag met woorde. Kyk net hoe netjies slaag hy daarin om nié in sy teenstelling van D.J. Opperman en André P. Brink (as samestellers) te sê dat Brink dit te make het met gedigte wat nie esteties bevredigend is nie – maar dit wel luidkeels te impliseer.

Hy laat soms ook ‘n opmerking in die lug hang – ryp met suggestie. Kyk byvoorbeeld hierna: “In Deel II verskyn twee digters wat nie in Groot Verseboek 2000 opgeneem is nie, naamlik D.P.M. Botes en Pieter W. Grobbelaar.” Nou, hierin lê ‘n dik homp literêre geskiedenis. Botes is lank uit die beskaafde literêre diskoers verban weens sy digterlike kleptomanie. En diegene wat Brink as kritikus in volle swang in die sewentigs onthou, sal in herinnering kan roep dat Brink omtrent minder te spreke was oor Pieter W.Grobbelaar as oor Merwe Scholtz en Karel Schoeman. Om nou in GV opgeneem te word …

Human aanvaar duidelik Brink se betoog dat daar by die nuwe GV groter dinge aan ‘t gebeur is.

Ek is ook mal oor die laaste deel van hierdie opmerking: “En in Deel III word plek ingeruim vir nie minder nie as 42 skrywers wat ná 2000 as digters gedebuteer het – of hul hand aan die poësie gewaag het.” Lees: “Kwalik geslaag het”.

Human wikkel hom ook gou uit die sirkulêre redenasie waarin enige gesprek oor objektiwiteit en subjektiwiteit by die samestelling van bloemlesings van hierdie aard gou verval. Ek sou ook graag wou weet hoekom Trienke Laurie meer ruimte kry as byvoorbeeld Peter Blum of Ingrid Jonker, of oor hoekom Daniel Hugo so liggies behandel is.

Maar om te stoom oor subjektiwiteit help niks. Enigiemand anders as Brink sou ook subjektief gewees het. En dit is steeds beter as wat die geval was by Gerrit Komrij se “De Afrikaanse poëzie in 1000 en enige gedichten”, waar daar twee uiters subjektiewe samestellers was.

As daar een leemte in Human se resensie is, is dat hy nie die verband sien tussen die nuwe GV en die reeks bloemlesings wat Gerrit Komrij oor die Nederlandse digkuns saamgestel het nie. As hy het, sou hy sy laaste opmerkings oor een slanker bloemlesing met ‘n bietjie meer insig gemaak het.

Het hy ooit daaraan gedink dat die voordeel van drie bande juis dít is dat hulle apart verkoop kan word, en apart opgedateer? Dis mos voor die hand liggend dat dit gaan gebeur. Wat goed was vir Bert Bakker, sal ook goed wees vir Tafelberg.

Nietemin, ek sien uit na ‘n meer gereelde verskyning van Thys Human se naam as koerant-resensent.


0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page