top of page
  • Uitmelkbos

Viva, HennievanD’s, viva!

Ek was al ‘n groot man – in jare en na lyf – toe leef ek nog in die naïewe oortuiging dat ek die enigste Hennie van Deventer op aarde is. Daardie illusie is geprik toe ‘n heelwat jonger man een oggend by ontbyt in die Dorpshuis-hotel in Kaapstad doelgerig na my tafel stap en homself hoflik bekend stel: “Goeie more. Ek is die ander Hennie van Deventer.”


Ons was dus twee. Hierdie een, so het ek te wete gekom, was ‘n Hervormde leraar in Pretoria (meen ek), hoog op in die onderwyskringe van die destydse ou Transvaal. Amper met vaderlike trots het ek in die media gevolg hoe hy die leer bestyg en mettertyd ‘n doktorgraad verwerf – iets wat in ‘n stadium ook in die uwe se ambisieveld was.


Die naaste wat ek aan daardie verhewe akademiese status gekom het, was egter op die program van die Geloftefees by Secunda iewers in die jare 70. Die feeskomitee was klaarblyklik bek-af toe dit op die lappe kom hul redenaar is ‘n doodgewone meneer.


Mettertyd het ek (ook in die media) bewus geraak van Hennie van Deventer, merk III. Hy is eienaar van ‘n Bosveld-lodge naby Hoedspruit – en het, indien moontlik, dalk nog meer bosbloed in sy are het as ek. (Dié Hennie het ook later op TV opgeduik in ‘n program oor boerseuns wat vrou soek, wat identiteitsvergissing met die ouer weergawe so plus-minus uitskakel!)


Van daardie Hennie kry ek eendag uit die bloute ‘n e-posboodskappie wat my inlig dat hy my bosboekie Buurman van die Wildtuin by Orpen gekoop het. Hy stel hom bekend as ‘n Laevelder in murg en been wat onder meer vier jaar lank staptoere in Kruger gedoen het met wat toe die eerste konsessie was.

“Ek spog gereeld by buitelandse gaste dat daar nie bloed in my are is nie, maar wel rooibokke en olifante wat die werk doen.” Hy meld ook, so na my hart, dat wat hy doen. nie regtig werk is nie – dis net ‘n Hemelse voorreg om daar te wees.

Wel dan was daar drie van ons met dieselfe soliede naam – hoewel Hennie III ‘n Hendrik Theunis is, soos sy oom dr. Hennie, die kerkman.

Van ‘n studentevriendin uit my Tukkiedae (1958 – 62) kry ek op ‘n dag ‘n telefoniese pluimpie dat ek my na aftrede so vrugbaar en kreatief besig hou.

“Met wat?” wil ek verbaas weet. Toe moet ek hoor van die bestaan van ‘n Hennie van Deventer nommer vier. Hy is ‘n draaboekskrywer vir die een of ander TV-sepie waarvan die naam my nou ontgaan het.


Ek moet teenoor haar bely dat ek in die beoefening van die sepiekuns volledig ongeskoold en onaktief is, en kom haar summiere ontnugtering agter. Duidelik is hierdie HvD in haar estimasie nie meer wat hy tot op daardie oomblik was nie.


Toe op ‘n Sondag, net toe die kos opgeskep is en die Van Deventers handjies vat om die seën te vra, lui die telefoon. ‘n Vrou met ‘n erg vreemde aksent (dalk Oos-Europees) wil met Hennie van Deventer praat.

Ek is later na ‘n ander telefoon wat dalk minder sou krap. Sukkel-sukkel kom ons daarby uit sy soek Hennie van Deventer van BOE. “Hy sou my dadelik verstaan het,” voeg sy verwytend by,

Wel, dan was daar vyf van ons. Hierdie ene, stel ek op Google vas, is die belasting-ekspert van BOE se private kliëntediens – ‘n nuttige soort man om aan jou kant te hê, klink dit.

In Die Burger lees ek net daarna van Hennie van Deventer nommer ses – nog ‘n predikant en nog ‘n doktor Hennie – duidelik op sy terrein ‘n gerekende man. Na 26 jaar in die sendingveld in Malawi beklee dié dr. Hennie nou die pos van hoof van missionêre dienste van Bybelmedia op Wellington. Toe ek bel om telefonies kennis te maak, was hy juis weer Malawi toe.

Pasede ‘n week gelede soek ek op Litnet se webwerf ‘n bepaalde dokument. Ek skrik my neusdrup in snelrat toe my naam onverwags in ‘n verband opduik waar ek – amper 70-jarige grysaard, rustende ouderling en so aan – nie juis behoort te figureer nie.


Maar daar staan dit toe swart op wit onder die naam Hennie van Deventer dat die kêrel hom, soos hy dit stel, “onlangs in die troebel waters van ‘online-dating’ begewe het”. Hy rapporteer oor iets wat hy gelees het en “ag hemel, ek vee nou trane van histerie uit die oog!”

Wel, dan is daar sewe van ons. Dalk meer. Miskien moet ek maar beleefd vra dat die ander na vore kom waar hulle ook al skuil. Hierdie Hennie sal hom graag van julle bestaan wil vergewis en daarmee vrede maak voordat die Byl wat al in sy bos kap-kap, hom ook neervel.

Nou wat sal ‘n mens van al die Hennie van D’s sê? Ongertwyfeld dat hulle ‘n nogal uiteenlopende lot is, met ’n avontuurlustigheid wat op verskillende maniere tot uiting kom. In die gees en idioom van die nuwe Suid-Afrika sal ek maar vir my mede-Hennies so groet: Viva, Hennie van Deventers, viva!

‘n Laaste gedagte darem: as ooit tussen hierdie Hennie en Hennie die “online-dater” van Gay@Litnet gekruisde lyne moet ontstaan, sou gewis verwarring van dieselfde klas moontlik wees as toe die groentjie-verslaggewer by die destydse Rand Daily Mail opdrag kry om Chris Heunis die minister bel vir sy kommentaar op die een of ander verwikkeling.

Die jong man raadpleeg toe die telefoongids, kry daar C.J. Heunis en skakel. “Nee,” antwoord dié, “van daardie saak weet hy bokkerol” (hy’t n sterker woord gebruik). Vir effek voeg hy sommer ‘n paar minagtende kragwoorde by wat almal hul weg tot in die RDM se kolomme vind.

Toe die minister boos bel en kla dat hy nooit sulke dinge kwytgeraak het nie, bring ‘n vinnige ondersoek aan die lig daar was inderdaad n “ligte mistykie”. Die verslaggewer het C.J. Heunis die loodgieter gebelI (HvD)

* Hierdie werfjoernaal het verskyn in die rubriek Lyfskryf in die dagblaaie Beeld, Die Burger en Volksblad se naweekbylae BY van 25 Oktober 2008.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page