top of page
  • Izak de Vries

Viva die werkersklas!

Ek wil gou iets oor my dagtaak sê. Ek maak boeke vir mense wat opleiding nodig het as geskoolde arbeiders. Ons praat van bouers, sweisers, en dies meer.

Ek gaan net hierna iets sê oor skryfwerk, maar eers ’n belangrike punt: Die afgelope twee dae was ek by ’n Pan-Afrika-kongres wat die noodsaak van geskoolde arbeid aanspreek. (Party sal sê, ja, ons praat net, ons doen niks.)

Gisteraand het minister Pandor ons kom toespreek. Sy is wonderlik en eerlik. Daar is baie goed waaroor ek nie met haar saamstem nie, maar ek kan nie help om van haar te hou nie. (Ek het al ’n paar vorige ministers ook beleef.) Naledi Pandor is soos ’n tannie wat omgee.

Maar, weet julle? Die wonderlikste (en woesste) referaat, is vandag laatmiddag gelewer deur Ruben Richards.

Ruben wie?

Jip, my idee ook. Ruben Richards het na skool as ’n passer en draaier gekwalifiseer. Duh? Wel ... Hy het gewerk, verder gestudeer en uiteindelik ’n PhD behaal (in Hebreeus!). Hy het gedien op die Waarheids- en Versoeningskommissie (hy is ook ’n dominee) en hy was vir ’n ruk lank ’n adjunk-direkteurgeneraal vir die Skerpioene. Verder is hy op die rade van talle maatskappye.

Sy boodskap?

Hy sê ons op rand van ’n ineenstorting in die ekonomie, want ons skat nie ons blouboordjiewerkers na waarde nie. Ons benodig 50 000 nuwe, geskoolde arbeiders oor die volgende vier jaar. Verlede jaar het ons slegs 3 500 opgelei.

Daar is talle Australiërs ook op die kongres. Hulle boodskap is eenvoudig: Ons gaps alle Suid-Afrikaners wat opgelei is as geskoolde arbeiders. ’n Passer en draaier kan daar (op beginnersvlak) R1 000 000 maak per jaar. (Dis reg, dit was ses nulle.)

Snaaks. In Suid-Afrika is ons soos die Engelse. Ons sien neer op mense sonder grade. Ek het die afgelope ruk geweldig baie mense ontmoet wat geweldig baie weet, sonder om ooit die binnekant van ’n universiteit te sien.

Ek was gelukkig, ek kon gaan studeer, maar ek gebruik niks meer van wat ek geleer het nie. My grade is irrelevant in die werk wat ek tans doen.

Elke keer as die werk verander, moes ek myself weer van voor af heroplei. Dis erg.

Ruben Richards se boodskap was eenvoudig: Begin die blouboordjiewerkers na waarde skat. In Europa en Australië is hulle die ouens met die mooi huise teen die bult.

Wat my weer by skryfwerk bring (my nagtaak).

Help grade en ander goed om ’n boek te kan lees? Dalk, maar ek ken heelwat mense sonder grade wat uitstekende lesers is.

Ek het al baie by leeskringe opgetree, en ek was nogal verruk deur die hoeveelheid insig wat “gewone” mense in boeke het. Met Byna Liefde het ek opsetlik probeer om die “gewone leser” te betrek. Hoekom? Wel, hoekom bel jy ’n blouboordjiewerker as jou toilet verstop raak, of as jou garagedeur breek? Om nie te praat van daardie mekêniek wat die duur kar moet regmaak as dit jou laat staan op die N2 nie!

1 view

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page