Kan nie waar wees nie, hier’s ou HvD waaragtig terug by sy joolkoninginne! Raak die man nie moeg om só op dieselle snaar te tokkel nie?
Ja, ek hoor in my verbeelding dié versugting. Tokkie raak ook al ietwat nurks oor dié ge-tokkelry.
Maar hier’s my getuienis ter versagting. Ek sit voor my met ‘n (amper) volledige lys van Tukkies se joolkonginne en –prinsesse van 1955 af (met komplimente van Tukkies se argief). En dis ‘n boeiende oefening om só deur die name van die bekende en onbekende skones te werk, hoor.
Almal weet dat Anneline Kriel (1974) Mej. Wêreld was. Dié ongekunstelde meisie van Witbank het in dieselfde jaar ook die gesogte Mej. Wêreldkroon verower. Watter sensasie was dit nie!
Carike Keuzenkamp (1967) is dalk ewe bekend. Sy is een van ons voorste sangeresse van ligte liedjies, wat steeds die treffers inryg.
Weet iemand egter hoeveel aktrises via die jool-koninklikes kom? Ek tel vyf. Drie was koninginne: Helga van Wyk (1966), Carike en Anneline, en twee was prinsesse: Suzanne van Oudsthoorn (1965) en Jana Cilliers (1969).
Helga was in “Hoor my lied”, Carike in “Professor en die prikkelpop” waarin sy in haar nagkabaai “Timothy gesing het, Anneline in die Amerikaanse film “Kill and Kill Again”, Suzanne in “Debbie” en Jana natuurlik in hope TV-stories (o.m. “Fees van die Ongenooides”) en verhoogstukke (o.m. “Opdrag: Ingrid Jonker”).
Dié talentvolle dogter van wyle Oom Bags Cilliers en die skilder Bettie-Cilliers-Barnard., is trouens een van die blinkste Afrikaanse sterre van die laaste dekades.
Nog ‘n bekende is Gaynor Downie (1972) wat vandag Johann Rupert, ‘n studenteliefde, se vrou is.
Dat skoonheid in families loop, bewys die twee Van Oudtshoorn-susters, Marianne en Suzanne, wat albei prinsesse was – Marianne in 1962 en Suzanne drie jaar later.
In 2002 was die koningin Arina Pistorius en in 2003 Amalie Pistorius. In 2004 was Annie Pistorius ‘n prinses. Weet nie of hulle dalk susters was nie, maar die name, Arina, Amalie en Anna, suggereer ‘n band.
Ten slotte deel ek graag mee dat ek drie Van Deventer-nooiens onder die name van die prinsesse raakloop: Marianne (1974), Anita (1981) en Retha (1993). ‘n Mens is dankbaar as die stamnaam ook op hierdie terrein hoog gehou word!
.
.
Comments