top of page
  • Uitmelkbos

VIR ‘N ‘RAAID’ GEVAT

 Die moeilikheid is dat ‘n mens meesal nie weet ‘n maatskappy staan met sy een voet op ‘n piesangskil en met die ander in die graf nie.  Jy koop en betaal in kinderlike vertroue – oornag is jy jou swaarverviende geldjies kwyt.

 Soos duisende lugpassasiers nou met 1Time en die die uwe, Kiepie, vier jaar gelede met Nationwide.  Dis nie lekker om so letterlik en figuurlik vir “‘n raaid gevat te word” nie!

 In elk geval, as ek ‘n goeie les geleer het, is dit die volgende: As jy hoegenaamd twyfel, betaal per kredietkaart.  Dit geld nie net die laekoste-paddastoeltjies wat luglangs van punt A na punt B zirts nie. 

 Kyk wat gebeur nou met 1Time. Die banke val omtrent oor mekaar om hul kliënte te verseker hul plastiekgeldjies sal veilig wees. Dis die ouens wat oor die internet of die bank se toonbank hul kontant onmiddellik stort, wat altyd aan die kortste ent trek. Jy word eenvoudig sommer ‘n nommer in ‘n lang likwidasieproses.

 HvD het vir die wintervakansie 2008  vier kaartjies – vir hom, TvD en die tweeling-kleinkinders, Jacob en Thomas — na Mpumalanga Internasionaal gekoop.  Toe vou Nationwide.

 Dokumente is met moeite voltooi en ‘n eis vir R5 392,00 geregistreer (amper op ‘n sent die verlies wat matrone Netta Nortjé nou via Oom Oubaas  in 7de Laan gely het).  Meer as vier jaar het ek gesukkel om ‘n antwoord uit die likwidasieprokureurs te kry oor waar sake nou staan.

 In daardie tyd het die Pretoriatrust die Tshwanetrust geword en is die Nationwide-saak van een lessenaar na ‘n ander geskuif.  Tien dae gelede het ek weer ‘n hoflike  e-possie gestuur:

 From: Hennie van Deventer [mailto:hvandeventer@mweb.co.za] Sent: 04 November 2012 04:00 PM

Subject: Eis teen Nationwide

Importance: High

Vir aandag: Alta van Wyk/Hannes Muller

 Goeie middag

 In ‘n brief gedateer 17/06/2008 is ontvangs van my eis vir R5 392,00 m.b.t.  vliegkaartjies teen Nationawide Airlines onder handtekening van Alta van Wyk erken. Dit was die laaste kommunikasie van u in daardie verband.

 My navraag is of die aangeleentheid nog onder afhandeling verkeer en of ek derhalwe aangeraai word om die betrokke dokumentasie te bewaar.

 Dankie vir u vriendelike aandag

 Met agting

 J.H. van Deventer

Posbus 204

Kernkrag

7440

 Na ‘n verdere oproep of twee het Deirdre Basson, “estates manager”, laat weet: 

 Meneer Van Deventer

 Daar is op die oomblik steeds nie fondse vir uitbetaling aan konkurrente skuldeisers beskikbaar nie.

 Die likwidateurs van Nationwide is tans besig met litigasie in die Hooggeregshof  teen die SAA ten aansien van ‘n skadevergoedingseis ten bedrae van R115 000 000 plus rente.

 Indien die eis suksesvol is sal daar beslis ‘n betaling aan konkurente skuldeisers gemaakkanword. Indien nie, sal daar moontlik slegs ‘n geringe dividend beskikbaar betaalbaar wees.

 Die litigasie kan egter nog etlike maande neem om af te handel.

 Groete

  Deidre Basson

ESTATES MANAGER

Tshwane Trust Co (Pty) Ltd

1207  Cobham Road

Queenswood

Pretoria

0186

 DOCEX 51,PRETORIA

 MK56PRETORIA/ MK56JOHANNESBURG

 Tel 0861 874 926 // +27 12 333 6162

Fax 0865 542 460 // +27 12 333 4672

 ‘n Eis van ver oor die R100 miljoen teen die “bankrot” SAL!  As die eis slaag, kry ek dalk ‘n krummeltjie terug.  Oor maande.  Ai, mense, moet ek regtig nog ‘n spul onnodige papiere bewaar vir so ‘n flou ligstraaltjie in ‘n la-a-ang donker tonnel?

 Een geluk darem: Dit was nie R50 000 nie!

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

Comments


bottom of page